Haatspraak-klag teen Malema oor “Kill the Boer”

(Foto: EFF/Twitter)

Julius Malema, die EFF en die ondersteuners van dié party móét gedwing word om op te hou om liedere te sing wat haatspraak en geweld aanhits.

Dít volgens die burgerregtegroep AfriForum wat sê die party se houding verhoog onnodige rassespanning in die land en druis in teen ’n vreedsame demokrasie. Om dié rede het AfriForum Donderdag haatspraak-klagte teen Malema en die EFF by die hooggeregshof, wat as die gelykheidshof sit, ingedien.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê liedere wat geweld teen boere aanhits, word deur die EFF verromantiseer, terwyl plaasmoorde ’n werklikheid in die land is.

Die haatspraak-klag fokus op die besonderse konteks waarin die EFF “Kill the Boer, kill the farmer” gesing het en verwys na verskeie ander geleenthede waar die party en sy leiers die lied, wat reeds tot haatspraak verklaar is, gesing het. Die aansoek steun ook op die 2011-skikking tussen AfriForum en Malema, toe ’n bevel van die hoogste hof van appèl gemaak is, ingevolge waarvan Malema verbied word om sulke liedere te sing en verplig word om sy ondersteuners aan te moedig om dit ook nie te doen nie.

Roets meen die sing van die lied in Oktober in Senekal dui juis die konteks van haatspraak aan omdat Malema dit buite die hof gesing het waar die vermeende moordenaars van die plaasbestuurder Brendin Horner verskyn het.

“Die bedoeling van die EFF wanneer hulle die lied sing, is om hatig te wees. Plaasmoorde is ’n ernstige en voortdurende werklikheid. Die EFF se uitlokkende aanhitsing van plaasmoorde buite die hof waar beskuldigdes van ’n plaasmoord vervolg word, is skokkend en onaanvaarbaar,” sê Roets.

Die klag fokus ook op die gewelddadige aard van die EFF en die onlangse uitlatings deur die EFF-woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi waar hy sy volgelinge aangehits het om boere se plase te beset en eiendom te verbrand.

Roets sê AfriForum het met Malema en die EFF in gesprek probeer tree om te verduidelik wat die organisasie as haatspraak beskou.

“Ons het egter geen reaksie gekry nie.”

Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger, sê die organisasie se doel met die klag is om Malema, sy ondersteuners en die EFF te verbied om ooit weer “Kill the Boer, kill the farmer” te sing.

“Indien hy sou aanhou om dit te doen, kom dit wat ons betref op haatspraak neer en kan hy aan minagting van die hof skuldig bevind word. Ons wil sien dat Malema en die EFF tot verantwoording geroep word ten einde by ’n vooruitstrewende Suid-Afrika vry van haatspraak uit te kom.”

Op ’n vraag aan Roets oor die moontlike opvatting wat daar bestaan dat AfriForum Malema en die EFF teiken, het hy gesê die EFF val minderhede en AfriForum se lede aan en die organisasie tree uit selfverdediging op.

“Ons sê die EFF kan voortgaan om radikaal te wees sonder om geweld aan te hits.”

Roets is ook gevra wat sy kommentaar is op die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof in die aansoek wat Malema en die EFF ingedien het om belangrike dele van die Wet op Oproerige Byeenkomste (17 van 1956) en die Wet op Betreding (6 van 1959) ongeldig te laat verklaar.

Dit het gespruit uit verskeie klagte van aanhitsing wat reeds teen Malema ingedien is en waarvan sommige nog hangend is. Malema het sy ondersteuners by verskeie geleenthede aangemoedig om grond onwettig te beset.

Die Konstitusionele Hof het beslis dat betreding steeds ’n misdaad is en dat daar ’n onderskeid tussen ernstige en minder ernstige oortredings is.

Roets meen die uitspraak is nie ’n oorwinning vir Malema soos hy aanvoer nie.

“Dit is duidelik dat hy ’n oortreding begaan as hy vir die doelbewuste besetting van mense se grond vra. Hy tree onverantwoordelik op.”

Roets sê indien daar nie vinnig vordering met die jongste klag gemaak word nie, sal adv. Gerrie Nel van AfriForum se private vervolgingseenheid betrek word om Malema te vervolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Rentia ·

So Afriforum, wat het julle ooreenkoms nou eintlik bereik? Enige iemand gekeer om steeds te skree hoe moet ons blankes vermoor word? Enige berou getoon deur die EFF? Probleem opgelos daardeur? Geen meer moord as gevolg van hierdie lied en julle “berading” aan JM?

Annelien ·

Regtig Rentia…… het enige iemand anders iets gedoen? Enige klagte wat nou teen Malema en EFF gele word behoort aandag te kry!!

Lizelle ·

Rentia, wat stel jy voor? Wie moet wat doen om hierdie probleem op te los?

Sarel ·

Hierdie ou kan niks anders doen as skree en raas nie. Dit is waaro p sy Leierskap(?) en Party gaan.
My vraag in die hoed… As Leier van due ANC Jeugliga was hy deur die ANC beskerm. Hy is die enigste persoon wat dit kon reg kry om met sukses weg te breek.Hoekom?? Al die ander se pogings was deur ANC insypelaars in die wiele gery en het nerens gekom nie.

KapteinHond ·

Toe Steve die Stem op ‘n Afrikaanse platvorm gesing het was hy deur meeste Radio stasies en Afrikaanse musiek feeste belet. Die Stem is nie haatspraak nie. Nou hoe nou? As jy ‘n rooi kêps dra kan jy maak net wat jy wil. Dankie Afriforum

Persheks Adri ·

Ek hoop van harte dat hier iets van gaan kom! Ons is keelvol verby vir die EFF’ers pffft en hulle haatspraak en aanhitsing van geweld. Sluit toe en gooi weg die sleutels!

gatgogga ·

“Op ’n vraag aan Roets oor die moontlike opvatting wat daar bestaan dat AfriForum Malema en die EFF teiken…..”
Wie vra so ‘n vraag?
Gaan vra eerder vir die polisie of hulle dan kriminele teiken.

Bees Boer ·

Was daar nie al ‘n vorige hofsaak oor hierdie saak nie?

Persheks Adri ·

Baie sake pffft met die klomp EFF’ers eintlik té veel

George ·

Malema sal dit weer aflag of net weer sal niks daar van kom nie. Of die hof sal uitstel en uitstel….

Francois ·

Afriforum, die wette wat ons ken, en die nodige optrede het lankal verval. Weet nie hoekom poog julle nog enigsins nie, Alles wat voor die howe kom en uitsprake wat gelewer word eenvoudig van die tafel gevee, en word daar weer aansoek gedoen vir die volgende hofsaak. Bietjie bissar as julle my sou vra. Verstaan mooi ek het dit gladnie teen u organisasie nie, u doen uitstekkende werk, maar ons FIGHT A LOSSING BATTLE

Sakkie ·

Ai mense wanner gaan julle leer …. Julle moet nou al by die tyd weet die anc se freedom figheter kan net maak wat hy wil en hy kom niks oor nie

Anton ·

Ons wets toepassers is tweegesig mense. Daar is twee stelle reëls vir twee stelle mense. Mev. Momberg en Julius Malema.

daniel ·

Malema is net n doodgewone burger met geen uitsonderlike eienskappe nie.

Janee ·

Niks gaan hulle keer om te doen en te sê wat hulle wil….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.