Haatspraak-uitspraak: Gordhan gaan hom ‘nie laat intimideer’

(Foto’s: ANA)

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se regspan sê die gelykheidshof het dit Donderdagoggend onomwonde gestel dat Julius Malema se opmerkings “doelbewus gemaak is om skade te berokken” en “haat te bevorder” teen Gordhan.

Malema het Gordhan verlede jaar “korrup” en ʼn “hond van wit monopoliekapitaal” genoem. Afgesien van dié gewraakte opmerkings het Malema hom ook daarvan beskuldig dat hy swart amptenare uit staatsbeheerde ondernemings verwyder.

Gordhan het Malema hof toe gesleep oor die opmerkings, maar regter Ronald Sutherland het die minister se aansoek vroeër vandag van die hand gewys.

“Die hof het die stelling as ‘haatlik’ beskryf, asook dat dit ʼn ‘voorbeeld is van ʼn oordrewe, onvolwasse gekyf wat grootpratery tot die uiterste geneem het tydens ʼn duidelik ideologiese toespraak’,” het Gordhan se regspan namens hom in ʼn verklaring gesê.

Die regter het bevind hoewel die opmerkings hatig is, dit nie binne die bepaalde raamwerk van die Gelykheidswet val nie.

Gordhan se regspan het voorts gesê die uitspraak kan rigtinggewend vir toekomstige uitsprake wees.

“Ons sal voortgaan om ons kliënt te adviseer oor alle wetlik beskikbare opsies teen die voortslepende en kinderagtige veldtog van die EFF wat leuens oor ons kliënt versprei en die politiek van haat, verdeeldheid, onverdraagsaamheid en intimidasie bly saai.

“Of die EFF nou ons kliënt aanval, regters teiken of joernaliste intimideer, sy gevaarlike misbruik van vooroordeel ondermyn ons konstitusionele demokrasie.”

Gordhan het gesê hy bly verbind tot politieke debat wat die demokratiese diskoers bevorder en die land help bou aan die grondwetlike visie van gelykheid, waardigheid en vryheid vir alle Suid-Afrikaners.

“[Gordhan] gaan nie geïntimideer word nie en gaan voortgaan, saam met die meerderheid Suid-Afrikaners, om diegene wat hierdie doelwitte kortwiek, aan te vat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
humor

Malema se woorde is haatlik en hatig maar is nie haatspraak nie. Ek verstaan ie mooi nie.

Petrus Heigers

Boetman Malema raak nou darem baie stout. Hy behoort na die hoof se kantoor toe gestuur word vir ‘n goeie pak slae.

Malema maak wat hy wil en sê almal in die ANC is bang vir die rebelse kind

Right said Fred

Twintig van die bestes vir hom.

GR

Weer ‘n bewys dat Malema onaantasbaar is hy kan se en doen net wat hy wil,ANC “light” ??ek dink so,hys die ANC se spreekbuis.

Johanna Botha

En hy gaan dit weer se kyk mooi !