Habib bedank by Wits

adam-habib-wits

Prof. Adam Habib.

Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het bedank om ʼn pos as direkteur van die School of Oriental and African Studies (SOAS) in Londen, Engeland, op te neem.

Habib sluit hom op 1 Januarie 2021 by die SOAS aan en sal tot dan in sy pos by Wits aanbly. Hy sal dan reeds agt jaar lank aan die stuur van dié universiteit wees.

Habib sê hy het verlede jaar aansoek gedoen om die pos en was uit die veld geslaan toe dit vir hom aangebied is. Hy het ná lang oorweging en vele gesprekke met sy gesin en die universiteitsbestuur besluit om die betrekking te aanvaar.

“Ná sewe jaar is dit tyd vir my om aan te beweeg.

“Ek kan nie aanvoer dat ons die politici en politieke aktiviste gelukkig gemaak het nie, maar die aanduiders wat saak maak – navorsing, opleiding, finansiële volhoubaarheid, transformasie – wys ons het geweldig goed gevaar danksy almal se gesamentlike pogings. Daar is egter nog veel om te doen,” sê Habib.

Habib sê verlede jaar het 9 500 studente by Wits gegradueer, 15 000 studente het ingeskryf en navorsingseenhede het toegeneem van 1 200 in 2013 tot net minder as 2 000 vanjaar. Weens die akademiese sukses is Wits se begroting opgestoot van R2,4 miljard in 2013 tot R4 miljard in 2018.

“Wits was vir my nog altyd meer as net ʼn werk. Dit was ʼn politieke passie. Ek sê nog altyd dit is belangrik vir die toekoms van die land om ʼn instelling te vestig wat getransformeer is. Ons kan nooit ʼn inklusiewe samelewing skep of geskiedkundige verdeeldheid uitwis, terwyl Wits nie ʼn getransformeerde instelling van wêreldgehalte is nie.”

Isaac Shongwe, voorsitter van die Wits-raad, het Habib met die aanstelling gelukgewens. “Hy is ʼn dinamiese leier wat ongetwyfeld ʼn beduidende bydrae gelewer het aan Wits en die hoëronderwyssektor, plaaslik en internasionaal. Sy vreeslose, prontuit kommentaar en sy algemene robuustheid het van ons universiteit en Suid-Afrika ʼn ryker intellektuele ruimte gemaak en daarvoor is ons dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Syfers, syfers om met koppe te smokkel. Ook hy het sy liberale brif afgehaal en besef die eise gaan net meer en meer raak en die vernietiging meer, hardloop habib hardloop

Dries ·

Vir al die geld in die wereld wil ek nie tans aan die hoof van ‘n universiteit in HIERDIE land staan nie. Wonder of hulle gaan sukkel om hom te vervang.

gatgogga ·

Wel, Habib is nog ‘n nugter akademikus wat ons verloor.
Hy het dikwels in die openbaar te velde getrek teen die ANC onbevoegdheid.
As dinge so aangaan, dan gaan Julius Malema nog eendag die slimste mens wees wat nog in RSA oor is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.