Hadida met pyl in rug gered

Cupid, die hadida met die pyl in sy rug (Foto: Owl Rescue Centre, Facebook)

’n Herrie het op sosiale media losgebars oor ’n foto van ’n hadida met ’n pyl in sy rug wat in Johannesburg gewaar is. Die hadida, wat nou Cupid gedoop is, is intussen gevang en die pyl is verwyder.

Cupid is Donderdag die eerste keer deur ’n inwoner in Greenside in Johannesburg gewaar. Ondanks die reusepyl wat byna een sentimeter diep in sy vel ingedring het, het hy steeds sonder enige gesukkel rondgevlieg. Dit het voorgekom asof die pyl hom nie eens pla nie.

Die Owl Rescue Centre is van Cupid se lot in kennis gestel en hulle het in samewerking met die South African Wildlife Rehabilitation Centre (SAWRC) die taak onderneem om hom te vang en die pyl te verwyder.

Die span het omtrent vyf dae lank gespook om uiteindelik die steekse hadida te vang.

“Ons het besef dit gaan nie ’n maklike taak wees nie, want hadidas is baie moeilik om te vang,” vertel Brendan Murray van die Owl Rescue Centre.

“Ons kon nie naby genoeg aan hom kom om hom met ’n vangnet te vang nie.”

Murray sê hulle het oor die naweek elke dag kos in een van die huise se erwe vir hom gelaat om hom só nader te lok.

Brandan Murray van die Owl Rescue Centre (Foto: Owl Rescue Centre, Facebook)

“Hadidas is baie territoriaal en sal elke keer terugkeer na die plek waar hulle kos kry.”

Hulle het toe ’n lokval by die voerstasie in die erf opgestel, sodat hulle hom kon vang wanneer hy na die stasie kom om te eet.

Cupid is uiteindelik Dinsdag omstreeks 17:00 in die lokval gevang.

Hy is daarna na die Owl Rescue Centre se veearts geneem wat hom dadelik begin ondersoek het.

Die pyl is vanoggend (Woensdag) verwyder.

“Die pyl het darem nie te erge skade aangerig nie. Hy het net ’n velwond wat behandel sal moet word. Nie een van sy bene is gebreek nie en die pyl het ook nie enige orgaan getref nie.”

Cupid gaan vir die volgende paar dae by die veearts moet bly, waar hy antibiotika sal kry om seker te maak hy kry nie ’n infeksie in die wond nie. Hy sal ook eers vir rehabilitasie moet gaan voordat hy weer vrygelaat kan word.

“Na ’n paar dae sal ons hom weer vrylaat daar waar ons hom gevang het. Hy het ’n maatjie wat daar vir hom wag.”

Murray sê hy vermoed Cupid is ’n volwasse mannetjie, maar het nie genoeg kennis om met sekerheid dit te bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Maggies ·

Wel gedaan. Pragtige storie. Hoop net die een wat die pyl geskiet het kry ‘n kramp.

Alet ·

Altyd maklik om te praat. Ek sal wel nie die ding skiet nie maar sou graag sy nek wou omdraai. Ek het een in my erf. Vreet elke dag my hond se pille op, skreeu mens mal en beskyt alles van die lapa tot die afdak by die agterdeur en die courtyard se mure. Sulke lang wit strepe oral. Dis nie ‘n grap nie en die verpesting kom elke dag terug. Ons het al gejaag en geskreeu en klippe gegooi en niks wil hom daar weg hou nie.

Hennie J ·

Stem heelhartig met jou saam Alet. Dit is n pesding en almal wat so jammer is-ek hoop julle kry binnekort een wat hom tuismaak in die boom buite jou slaapkamer. Pylskieter, jy behoort baie beter te korrel.

Grond ·

Bly vir hom die pyl is uit, solank hy net nie by my kom lawaai nie.

Dapper Patriot ·

As jy ‘n dier skiet, skiet jy om dood te skiet.
Om enige dier te kwes is onmenslik.
As jy nie die dier dood kan skiet nie, moet nie eers vir hom mik nie.

Ann ·

Ai, hoe verlang ek nou na my ouma. Sy het niks van hulle lawaai gehou nie!
Ek is egter bly hulle kon hom help. Mag die een wat die pyl geskiet het ook ‘n pyl iewers kry waar dit sensitief is …

Lorna ·

Kyk dis nou 1 voëltjie wat ek nie like nie 1 het my jare terug gejaag omdat ek hom wou jaag by kattekos maar hy skrik toe nie vir my nie
Maar wragtag skiet hom nie ons bly maar uit mekaar se pad

Judge ·

Het op n Tyd baie Hadidas gehad. Toe kry ek 2 honde wat Hadidas vang. Baie rustiger.

katerinadiekat ·

Wow sommige van die kommentare hier verbaas my. Ek bly in die Mpumalanga Laeveld in die bos, en in my agterplaas is daar elke dag vir meeste van die dag, Hadedas wat eet op die gras. Hul geskree pla my nie, dis oulik en mooi en dis tog die natuur. Ons 2 honde pla hulle nie en die Hadedas pla niemand.

Peter Pan ·

So bly hy is gehelp.. al hou ek niks van Hadida’s nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.