Hadida met pyl in rug gesoek

Die Owl Rescue Centre is Maandag dadelik van dié geveerde dier in kennis gestel en ʼn soektog is van stapel gestuur (Foto: Owl Rescue Centre, Facebook)

Daar is nog geen spoor van ʼn hadida – met ʼn pyl in sy rug – wat Maandag in die Menlyn-omgewing in Pretoria-Oos gewaar is nie.

Die Owl Rescue Centre is dadelik van dié geveerde dier in kennis gestel en ʼn soektog is van stapel gestuur.

Volgens Brendan Murray van die Owl Rescue Centre het hulle dieselfde dag ʼn inskrywing op Facebook gesit om die woord te versprei dat mense in die ooste van Pretoria op die uitkyk moet wees vir die hadida.

Murray sê ondanks die reusepyl wat die hadida se vel binnegedring het, het hy steeds sonder enige gesukkel rondgevlieg.

“Die feit dat hy sonder ʼn gesukkel rondgevlieg het, is ʼn teken dat die pyl darem nie te erge skade aangerig het nie. Ons glo dit kon net ʼn velwond wees,” sê Murray.

Hoewel die Facebook-inskrywing wyd op sosiale media sirkuleer, is die hadida ná vyf dae nog nie weer gewaar nie.

“Niemand het ons al gekontak dat hulle hom weer gesien het nie. Ons weet nie of hy nog leef en of iemand hom dalk reeds gevang het nie.

“Ons sal egter nie hoop verloor nie en aanhou soek.”

Murray sê hadidas is baie territoriaal en sal elke keer terugkeer na die plek waar hulle kos kry en daarom is dit nie té moeilik om dié dier te vang nie.

“Ons sal die hadida deur middel van ʼn netgeweer vang of ʼn lokval vir hom stel. Dit kan wel ure neem met só ʼn vangproses.”

Maroela Media het verlede jaar berig van ʼn soortgelyke voorval toe ʼn hadida met ʼn pyl in sy rug in Greenside in Johannesburg gewaar en uiteindelik gered is.

Die hadida, wat Cupid gedoop was, se pyl is verwyder en hy is weer in die natuur vrygelaat. Gelukkig vir hom, het die pyl belangrike organe gemis en ook net ʼn velwond veroorsaak.

Volgens Murray is hadidas maklike teikens en is almal nie té mal oor hierdie luidrugtige voël nie. “Daarom glo ons nie die pyl in die voël se rug was ʼn ongeluk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

miche ·

Dit is verskriklik hartseer. Ek hoop hul vind die arme voël.
Die hadida’s is heel gemaklik in my tuin en ek geniet hul. Ongelukkig skree my Bure harder as die voëls en verjaag hul nog voor hul hul sit behoorlik Kan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.