Halfmiljard bestee, maar g’n skool om te wys

Die Gautengse departement van onderwys het reeds miljoene bestee om die Rust-Ter-Vaal Primary School in Vereeniging te laat bou. (Foto: DA)

Die Gautengse departement van onderwys (GDO) het die afgelope vyf jaar ongeveer ʼn halfmiljard rand verkwis aan halfklaar geboude skole, waarvan die boupersele nou al vir jare verlate staan.

Dít terwyl duisende leerders jaarliks sukkel om plek in skole in dié provinsie te kry.

Volgens inligting wat die departement van infrastruktuur en ontwikkeling vroeër vanjaar in die provinsiale wetgewer bekendgemaak het, het die GDO reeds tussen R450 miljoen en R500 miljoen gehoes aan projekte om nuwe skole te bou of bestaande skole op te knap, sonder dat hierdie projekte ooit afgehandel is.

Hierdie projekte is spesifiek in digbevolkte gebiede soos Roodepoort, Vereeniging en Midrand van stapel gestuur om druk op bestaande skole te verlig.

Die inligting is verskaf in antwoord op verskeie vrae deur die DA se woordvoerder vir onderwys in die provinsie, Khume Ramulifho. Hiervolgens is die bou en opknap van minstens tien skole die afgelope vyf jaar gestaak. Die redes hiervoor word nie genoem nie, maar Ramulifho sê wanbestuur en swak beplanning deur die departement van infrastruktuur en ontwikkeling, wat vir die bestuur van projekte verantwoordelik is, lei dikwels daartoe dat onbevoegde kontrakteurs aangestel word en dan midde-in die projek die pad vat.

Ramulifho sê indien gekyk word na projekte wat ouer as vyf jaar is, kom die getal onvoltooide skole op 20 te staan.

“Weens die Gautengse departement van infrastruktuur en ontwikkeling se onbevoegdheid, gaan duisende leerders in oorvol klaskamers skool. Hierdie omstandighede is nie voldoende vir die lewer van gehalte-onderwys nie,” sê hy.

Een so ʼn onvoltooide skool is Semphato Secondary School in Soshanguve. Dié skool moes in Maart vanjaar reeds voltooi gewees het, maar volgens die departement word bouwerk vertraag omdat die kontrakteur nie genoegsame kontantvloei het nie. Meer as R82 miljoen van die R133 miljoen is reeds aan die projek bestee.

Die DA se Khume Ramulifho het die halfklaar geboude Rust-Ter-Vaal Primary School in Vereeniging besoek. (Foto: DA)

Opknappings aan Rust Ter Vaal Secondary School in Vereeniging is onder soortgelyke omstandighede gestaak. Dit moes in Februarie verlede jaar voltooi gewees het en het die departement reeds R55 miljoen gekos. Dié skool is onveilig verklaar weens asbes-infrastruktuur en oorvol klaskamers.

Volgens die departement is niemand nog vir enige van die vertraagde projekte voor stok gekry nie.

“Hoe langer die bou van die skool vertraag word, hoe duurder word dit om die projek te voltooi, want die boumateriaal word duurder. Die GDO bestee gewoonlik meer as R100 miljoen om een skool te bou, terwyl dit vir R60 miljoen gedoen kan word,” sê Ramulifho. Hy sê privaat skole word betyds én binne die begroting gebou. “Hoekom kan die regering dit nie ook doen nie?”

Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus in Gauteng, het nie veel hoop dat hierdie projekte binnekort voltooi sal word nie. “Selfs die ANC kla oor die agterstand in infrastruktuurprobleme.”

Die VF Plus én die DA meen die probleem kan opgelos word indien die GDO self beheer neem oor die bestuur van bouprojekte, aangesien die departement van infrastruktuur en ontwikkeling duidelik hierin misluk.

Volgens Alberts is die kans dat dit sal gebeur egter skraal. “Hierdie projekte is groot en tenders beloop miljoene rande. Die maatskappye waaraan hierdie tenders – soms op onbehoorlike wyse – toegeken word, is dikwels dié wat geld aan die party gee. Daar is dus ʼn politieke motief vir ʼn bepaalde departement om beheer oor die tenderproses te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.