Halfmiljoen gevat by Gautengse maatskaplike dienste

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Andrew Moca/Unsplash)

Meer as ʼn halfmiljoen rand sal voorts nie meer aan nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat maatskaplike dienste in Gauteng lewer, gegee word nie; dit gaan nou eerder na ander ontwikkeling- en bemagtigingsprogramme herlei word.

Verskeie organisasies waarsku egter dat dié besluit deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling duisende gestremde mense, bejaardes en kinders wat wees gelaat is moontlik sonder ʼn heenkome gaan los.

Die Gautengse Care Crisis Committee, wat NRO’s in die provinsie op die been gebring het om hul belange by die departement te verteenwoordig, het ʼn rillerbeeld oor die huidige stand van sake geskets.

Luidens die provinsie se jongste begrotingstoewysings vir die 2023-’24-boekjaar word NRO’s wat fokus op maatskaplike dienste vir kinders en gesinne se begroting met meer as R400 miljoen besnoei.

Dít terwyl die begroting vir NRO’s wat na bejaardes en gestremde mense in die provinsie omsien, met onderskeidelik R71,5 miljoen en R50 miljoen besnoei word.

“Hierdie besnoeiing, wat gedoen is sonder oorlegpleging of waarskuwing, het ʼn krisis by maatskaplike dienste geskep,” sê die komitee.

“Die volle omvang van die krisis is nog nie duidelik nie, maar alle aanduidings is dat die voortbestaan van sommige NRO’s nou in die weegskaal is.”

NRO’s in Gauteng lewer al dekades lank dienste namens die departement van maatskaplike ontwikkeling. Danksy ʼn ooreenkoms hieroor betaal die departement subsidies aan NRO’s om die dienste te lewer.

Die nuwe begroting wys egter dat van die geld wat vantevore vir maatskaplike dienste begroot is, nou elders aangewend word. Ontwikkeling- en navorsingsprogramme gaan veral by die begrotingsaanpassings baat, wat beteken dat sy ganse begroting aan R900 miljoen raak. Ná die besnoeiing sal maatskaplike dienste ook nou met ʼn begroting van net meer as R950 miljoen moet klaarkom.

Die program vir dwelmmisbruik het ʼn bykomende R188 miljoen in sy begroting gekry, wat sy algehele begroting op R615 miljoen te staan bring.

Die begroting vir armoedeverligtingsprogramme het byna verdubbel nadat dit met sowat 132% verhoog is. Dié programme sal nou byna R350 miljoen meer beskikbaar hê as in vorige jare.

Jeugontwikkeling het R18 miljoen meer met ʼn algehele begroting van meer as R40 miljoen.

Vroueontwikkeling het nog R17,3 miljoen gekry met ʼn algehele begroting van R24,9 miljoen, terwyl misdaadvoorkoming nog R6,8 miljoen kry wat die toewysings hiervoor tot R158,7 miljoen opstoot.

Slagofferbemagtiging kry ʼn bykomende R5 miljoen en sal voorts met ʼn begroting van R184,5 miljoen werk.

Duisende weerloses geraak

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Steven HWG/Unsplash)

Bronwynn Engelbrecht, die DA se woordvoerder van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, sê benewens die duisende weerlose kinders wat onder die besnoeiings gaan ly, word meer as 60 000 mense met gestremdhede ook geraak.

Meer as 4 000 gestremde mense het voordeel getrek uit werkswinkels waar hul waardigheid deurlopend herstel is. Dít terwyl byna 15 000 gestremde mense oor die afgelope jaar ook vaardigheidsontwikkeling by werkswinkels gedoen het.

Tans versorg NRO’s sowat 4 300 hawelose kinders en die DA is bekommerd dat die finansiële besnoeiings kan beteken dat die kinders weer op straat beland. Dit kan misdaad verhoog en lei tot dwelmmisbruik.

“Die herprioritisering van fondse wat bedoel is vir mense met gestremdhede, bejaardes en kinders is ʼn aanduiding dat die departement geen deernis vir die kwesbaarste mense in ons samelewing het nie,” sê Engelbrecht.

In ʼn poging om die begrotingsbesluit om te keer, sal DA-LP’s druk op die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, probeer plaas om in te gryp.

Die DA het ook ʼn beroep op inwoners van Gauteng gedoen om sy petisie te onderteken om die nuwe begrotingsmodel te skrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.