Hallusinasies laat man glo van gebou afspring

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Man is Sondagoggend in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem nadat hy glo gehallusineer en van ʼn dubbelverdiepinggebou in Pietermaritzburg afgespring het.

Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het gesê die man, vermoedelik in sy 20’s, is deur omstanders gewaar waar hy op die dak van die gebou gestaan en skree het dat iemand hom jaag. Daar was egter niemand anders naby die man nie.

“ER24 en ander nooddienste is na die toneel ontbied en het die man probeer oortuig om veilig van die dak af te kom,” het Rossouw gesê. “Toe noodpersoneel flitsligte uithaal om beter in die donker te sien, het die man glo gedink dit is vuurwapens en van die gebou afgespring. Hy het in ʼn leë parkeerterrein te lande gekom en ernstige beserings, waaronder verskeie frakture, opgedoen.”

Rossouw het gesê die man se vriende het glo aan die noodbeamptes erken dat die man verskeie soorte dwelmmiddels, waaronder Ecstacy, kort voor die voorval ingeneem het. Hy het glo al in die motor waarmee hulle gery het, begin hallusineer. Toe hulle stilhou om hom te help, het hy na bewering uitgespring en na die gebou gehardloop.

“Meer as vyf mans moes die man in bedwang bring sodat hy vir sy beserings behandel kon word,” het Rossouw gesê. Die man is na die Northdale-hospitaal geneem vir behandeling.

Die polisie was op die toneel om die voorval te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Sjoe, dit is erg! Ek hoop hy word direk na ‘n rehabilitasiesentrum verwys as sy beserings verbeter.

Michael ·

Ek kry hom glad nie jammer,as die kop dom is laat die lyf dan swaarkry??

Mick ·

Stem saam met jou. Saterdagaand. Ecstacy. Vriende. Verskeie soorte dwelms. Dit was sy keuse om dit te gebruik net soos die person wat besluit dit is OK om dronk te bestuur en dan fietsryers doodry. Dit is ‘n keuse wat jy maak en jy moet daarmee saamleef. Simpatie? Help hom eenkeer deur rehabilitasie aan te bied. Weiering en/of opvolg oortredinge en jy is op jou eie pel. Versterk jouself of krepeer in ellende. Jou keuse. Moenie jou swakheid op ander blameer nie.

SNEL ·

Mag ons ons weerhou om vir enige een wat blind, doof, n gebrek of verstandelik versteurd is, of enige ander persoon wat buite die normaal is te lag, want dis slegs genade, ja, dis al wat tussen ons en so persoon staan, en daai lyn is bitter dun. Dit vat net een kar ongeluk om ons ook in daardie posisie te sit. Hierdie man wil beslis nie so wees nie, maar daar is geen keer nie. Hierdie is soos n gebrek en ons kan net dankbaar wees dat ons nie in sy skoene is nie. Hy kan bly wees hy lewe na daardie val en ek hoop regtig hulle kan hom help of medikasie gee en in n veilige plek sit.

Leon ·

Micheal,
na twee weke intensiewe sorg het ek hallusinasies gekry van al die medisyne wat ek toegedien was. Nie eers my vrou kon my uit daardie hel laat ontsnap nie. Dit het my, my vorige bevelvoerder gevat om my te kalmeer en tot besinning te bring. Dit is nie aangenaam nie!!

Karma ·

O nee, SNEL, om ‘n middel-afhanklike te wees is nie soos om doof/blind/liggaamlik-gestremd te wees nie. In laasgenoemde geval het die mens min of geen keuse nie. In eersgenoemde geval het die mens AL die keuse. Dit is jou keuse om te drink of dwelms te neem; niemand kan jou dwing om te drink of dwelms te neem nie. Dié pappa het gekies om ‘n mengsel van verskeie hallusinerende middels soos Ecstasy en seker ook dagga te neem, daarom het hy in hallusinasie verval en vervolgingswaan gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.