‘Hamer-moordenaar’ swaar gevonnis

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Berugte moordenaar en verkragter van Noordwes, bekend as “die hamer-man”, is Donderdag swaar gevonnis in die hooggeregshof in Mahikeng.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, het gesê Bigboy Solomon Moleko (35) is gevonnis vir misdade wat hy in 2013 gepleeg het. “Hy was bekend aan die gemeenskap as die ‘hamer-man’ omdat hy sy slagoffers altyd met ʼn hamer geslaan het voordat hy hulle beroof, verkrag of vermoor het,” het Ramaloko gesê.

Volgens Ramaloko het Moleko meestal vroue in Mmbatho geteiken wat alleen huis toe gestap het wanneer hulle klaar inkopies gedoen het. In September 2013 het Moleko die 15-jarige Sasa Manye oorval wat saam met haar vriend in die gebied geloop het. Die vriend het weggehardloop en Moleko het Manye in die bosse ingetrek waar hy haar verkrag en vermoor het. Haar liggaam is die volgende dag met talle wonde aan haar bolyf gevind.

Moleko is twee keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord en verkragting van Manye, asook ʼn derde lewenslange vonnis vir die verkragting van ʼn ander vrou. Hy is ook tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir twee aanklagte van poging tot moord en nog 45 jaar tronkstraf vir drie aanklagte van roof.

“Die regter het nie in sy uitspraak beveel dat die vonnisse samelopend uitgedien sal word nie, wat beteken dat Moleko sy vonnisse een ná die ander sal uitdien,” het Ramaloko gesê.

Genl.maj. Jacob Tsumane, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir hul goeie werk en gesê dat geregtigheid geseëvier het. “Mense soos Moleko hoort nie in die samelewing nie, maar agter tralies waar die hof hom aangesê het om die res van sy lewe te deur te bring,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dee ·

Die regter is ôraaiterrig want hy het nie soos omtrent al die ander die vonnisse samelopend gemaak nie.

Dee ·

As ek reg onthou was die hamermoordenaar ‘n rugbyspeler van naam. Waarom noem julle hom nie soos Pistoors altyd met titel en akte nie? Pistorius word steeds bespreek as die ‘–.atleet’ so asof hy steeds die eer verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.