Hammanskraal-drinkwater gevaarlik vir menslike gebruik

(Foto: pixabay)

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die Tshwane-metro versoek om alternatiewe bronne te gebruik om skoon drinkwater aan die inwoners van Hammanskraal in Gauteng te voorsien. Dit volg nadat AfriForum sowat twee weke gelede dié water getoets en bevind het dié water is nie vir menslike gebruik geskik nie.

AfriForum het ná mediaberigte oor die gehalte van Hammanskraal se drinkwater watermonsters by die Jubilee-inkopiesentrum en die Hammanskraal-polisiestasie geneem. Dié watermonsters is na ’n geakkrediteerde waterlaboratorium gestuur vir ontleding.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria-area, het Vrydag gesê die resultate van die watermonsters toon die water bevat hoë vlakke nitrate wat gevaarlik is vir menslike gebruik. “Die watermonster wat by die Jubilee-inkopiesentrum geneem is, bevat 8,8 eenhede gekombineerde nitrate en nitriede, wat die 241-limiet vir skoon drinkwater oorskry,” sê hy.

AfriForum moedig Hammanskraal-inwoners aan om eerder gebottelde water te gebruik totdat die metro hulle inlig dat die water weer aan regulasies vir skoon drinkwater voldoen en veilig is vir menslike inname.

Volgens Grobbelaar gaan AfriForum die watergehalte deurlopend evalueer om die grondwetlike regte van die inwoners te beskerm en te verseker hulle word van skoon drinkwater voorsien. ”AfriForum maan die metro om die watergehalte so spoedig moontlik weer op peil te kry sodat die inwoners veilige drinkwater het,” sê Grobbelaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
J

Waar kan ons gratus gebottelde water kry asb.