Hammanskraal weer kalm ná geweld

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Betogers in Hammanskraal het vragmotors en busse aan die brand gesteek (Mei 2016). Foto: Facebook

Betogers in Hammanskraal het vragmotors en busse aan die brand gesteek (Mei 2016). Foto: Facebook

Die situasie in Hammanskraal, noord van Pretoria, was Dinsdagoggend kalm nadat twee mense dood en ses beseer is toe geweld Maandag in die gebied uitgebreek het.

Kapt. Tsekiso Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê polisiebeamptes was deur die nag in die gebied om die situasie te monitor, maar geen voorvalle van geweld is aangemeld nie.

Maroela Media het vroeër berig inwoners het gewelddadig geraak nadat lede van die Tshwane-metropolisie, die SAPD en ʼn private maatskappy plakkershutte wat onwettig op munisipale grond by Sekampaneng opgerig is, begin sloop het. Die verwydering van die onwettige strukture volg nadat ʼn hofbevel in hierdie verband bekom is.

Senior supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê inwoners het die polisie en werknemers van die maatskappy begin aanval, met klippe bestook en met petrolbomme gegooi. Die polisiebeamptes en werkers het onttrek, maar twee werknemers van die maatskappy is tydens die onderonsie dood. Ses ander is beseer.

Kgosientso Ramokgopa, die Tshwane-burgemeester, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê die geweld wat uitbreek elke keer wanneer uitsettingsbevele uitgevoer word, is kommerwekkend. “Hierdie uitsettings laat ʼn spoor van pyn agter wat vermy kan word, aangesien ons selfs die mees onregeerbare burgers met respek behandel eerder as met ʼn houding asof hulle gestraf word,” het Ramokgopa gesê.

“As die Stad Tshwane kan ons die situasie meer menslik maak deur seker te maak dat uitsettingkennisgewings duidelik is met duidelike opdragte vir inwoners van wat om te doen en hoe om aan die kennisgewing gehoor te gee, asook deur inwoners raad te gee en aan te moedig om betyds alternatiewe verblyf te soek en hul waardevolle besittings te beskerm. Ons voorneme is om geweld te ontmoedig terwyl daar steeds na weerlose groepe omgesien word.”

Ramokgopa het gesê hy is bekommerd oor politieke partye wat gemeenskappe aanmoedig om hofbevele te verontagsaam aangesien dit tot verset en geweld lei. “Ons sal hoegenaamd nie onwettige besetting van grond en eiendom duld nie. Daarom doen ons ʼn beroep op gemeenskappe om saam met ons te werk.”

Mofokeng het gesê die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en openbare geweld. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KLEIN ·

Steek hom vandag aan die brand en kla more omdat hy nie daar is om jou op te laai nie

Uys ·

As onwetigge hutte bine ń paar dae verwyder word was hul besef hul mag nie daar woon nie. Gee hul 2 jaar kans om te vestigv en uitbrei sal daar geweld wees.
Hou jou vinger op die grond en jul sal dit vermy

Magriet ·

Dejavu? Dit lyk nes foto’s van die tagtigs toe onluste hoogety gevier het in die swart woongebiede. So jammer dat die vryheid en gelyke geleenthede wat vir hiedie mense belowe was, nie na twee dekades van ANC bewind gerealiseer het nie! ANC moet ophou “window dressing” doen en geld reg aanwend. Sorg dat mense ‘n plek het om te bly en hulle mae vol is en bemagtig hulle deur werksskepping. Kyk dan hoe jy hulle kan opvoed om beter individue en landsburgers te word. Los die fênsie magsvertonings met wonings (Nkandla) en vervoer (ons agbare Zumpies se nuwe straler) en begin by die begin! Jy kan geen s’n in ‘n honger, werklose, uitsiglose mens se kop praat nie!

Johann ·

Dis nou maar jammerlik die herhaalde gevolge van n gemobiliseerde massa; selfde ding wat die ANC en sy bedmaats gebruik het om die land tot hul eie voordeel te ontwrig; selle ding hap hulle nou in die gat. Betogers?????? Mense word vermoor en miljoene se skade gedoen!!!! Betogers????? Moordenaars en fandale!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.