Handgranaat-moord: ‘Vrou het man voorheen probeer vermoor’

Argieffoto

Argieffoto

Joel Mahoase, die voormalige weermagkolonel wat sy vrou na bewering met ʼn handgranaat vermoor het, het in Junie ʼn saak van poging tot moord teen sy vrou aanhangig gemaak.

Mahoase (44) word daarvan beskuldig dat hy op 29 Augustus twee M26-handgranate in die kombuis van hul Amanzimtoti-woning gegooi terwyl hy en sy vrou, Lesego, rusie gemaak het. Een van die handgranate het ontplof en Lesego het kort ná die voorval aan haar beserings beswyk.

Adv. Paul Jorgensen, Mahoase se regsverteenwoordiger, het Vrydag in die Durban-landdroshof gesê Lesego het in Junie vanjaar remvloeistof oor Mahoase se motor uitgegooi terwyl hy in die motor was en probeer om dit aan die brand te steek. Jorgenson het na die letsels op Mahoase se gesig gewys en gesê dit is deur die remvloeistof-aanval veroorsaak.

Dit het ook aan die lig gekom dat Mahoase by ʼn ander geleentheid vir ʼn beskermingsbevel teen sy vrou aansoek gedoen het. Die bevel is as bewys ingedien.

Konst. Dumisane Gumede wat in die getuiebank was, het gesê hy was die beampte wat die poging tot moord aanklag moes ondersoek. “Toe ek haar in hegtenis wou neem, het hy [Mahoase] my gekeer. Hy wou die aanklag teen haar laat vaar,” het Gumede gesê. Jorgensen het aan Gumede gevra of hy daarvan bewus is dat Mahoase destyds nie die saak voor die hof wou bring nie omdat hy graag die probleme tussen hom en sy vrou wou uitstryk.

Gumede het aan die hof gesê volgens die bewyse wat tot dusver versamel is, het Mahoase die aand van 31 Augustus teruggekeer huis toe nadat hy by ʼn begrafnis was. Die egpaar se twee kinders, vyf en agt jaar oud, het in hul kamers geslaap toe Mahoase en sy vrou oor geld begin stry het.

Volgens Gumede was ʼn “neef-broer”, slegs bekend as Tsepo, in die kombuis toe Lesego vir hom kom sê het haar man het haar gedreig. Mahoase het die kombuis binne gekom met ʼn handgranaat in elke hand. Hy het glo die pennetjies uitgetrek en albei handgranate in die kombuis gegooi.

Gumede het aan die hof gesê daar is geen vingerafdrukke van die handgranaat geneem wat nie ontplof het nie. Later het hy gesê “dit is moontlik dat ballistiese beamptes” aan wie die handgranaat oorhandig is, vingerafdrukke geneem het.

Jorgenson het gesê hy wou nie sy kliënt se verdediging nou al bekendmaak nie, maar “hy [Mahoase] het nie die pennetjie van die handgranaat uitgetrek nie”.

Mahoase is ook ʼn voormalige Umkhonto we Sizwe-lid en Lesego was ʼn lid van die lugmag.

Die borgtogverhoor is uitgestel tot later vanmiddag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Esther Coetzee ·

Sal graag wil weet hoekom die man handgranate in sy besit het en waar hy dit gekry het.Is dit nie onwettig om sulke wapens in privaatbesit te hê nie? Wonder hoeveel van hierdie tipe goed is in besit van oud-MK’s (wie se mensemateriaal in elk geval onder verdenking is . Dis soos om ‘n kleuterskool in ‘n arsenaal te laat speel )

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.