Handige wapen vir ANC in Kaapse kiesstryd

kaapstad-lugfoto

‘n Lugfoto van Kaapstad. Foto: Sharonang/Pixabay.com

Die nuwe waterheffings wat die Kaapse metroraad pas aangekondig het, is deur die ANC aangegryp as ’n handige wapen om sy posisie in die Wes-Kaap in aanstaande jaar se algemene verkiesing te versterk.

Die ANC gaan vanmiddag munt slaan uit die chaos in Wes-Kaapse DA-geledere deur ’n hofaansoek te bring teen ’n hele rits ongewilde nuwe waterheffings wat baie swak deur die DA aan Kaapse belastingbetalers verduidelik word.

Ten wortel van die kwaad is die voortgesette twis, tweespalt en onregmatige pogings van sommiges in die DA om ontslae te raak van die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille – die een politikus in die Kaapse stadsraad met die openbare aansien om die redes vir sulke heffings behoorlik en geloofwaardig aan Kapenaars van alle rasse oor te dra.

Die vreemdste van alles is dat De Lille van alles en nog wat beskuldig is toe sy die moontlikheid van waterheffings genoem het – deur dieselfde DA-lede wat nou veel meer omvattende heffings wil implementeer.

Die nuwe heffings sluit in:

* ’n nuwe waterheffing van R115 per maand, betaalbaar deur die meeste Kaapse huishoudings, nog voordat ‘n enkele kraan oopgedraai is; en

* ’n tariefverhoging van 10% in die waterprys, insluitend ‘n droogteheffing.

Die ANC se provinsiale sekretaris, Faiez Jacobs, voer aan dis ’n geldmaakstorie – ’n argument wat veral goed sal uitspeel op die Kaapse Vlakte waar die meeste kiesers woon, en waar niemand R115,00 per maand het om uit te gee op water wat hulle nie eens gebruik nie.

Die DA se kwesbaarheid oor die kwessie word deur hulself vererger, want omdat haar teenstanders haar die swye opgelê het, kan De Lille nie gebruik word om die ANC-aansprake teen te werk nie. Dit word nou oorgelaat aan die onderburgemeester, Ian Neilson, wat bekwaam is met tegniese besonderhede, maar nie goed met die massas kommunikeer nie en erg tekort skiet aan De Lille se persoonlikheid en slaankrag.

Die DA het ook nog geen doeltreffende aanduiding aan Kaapse belastingbetalers gegee waarvoor die heffings gebruik gaan word nie, en het geen aanduiding gegee dat uiters streng waterbeperkings wat steeds van krag is hoewel daar nou byna twee en ’n half keer meer water in Kaapse damme is as vier maande gelede, verlig gaan word nie.

Maar terwyl sommiges in die DA gereed maak om nog ’n mosie van wantroue in De Lille te stel, en Kaapse kiesers volgens die jongste meningspeilings vertroue verloor in die DA se vermoë om doeltreffend te regeer, dobber die DA leierloos voort, word De Lille steeds nie as bate aangewend nie en floreer die Wes-Kaapse ANC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris du preez ·

Die DA moet pasop of hulle gaan nie eers die opposisie party wees na volgende jaar se verkiesing . Laat staan nog die nuwe regering

Sanna ·

Wonder of hulle die van die damme aan China verkoop het? Dis hoe absurd die waterheffings voorkom. Hoe is dit moontlik???

Johann M van Heerden ·

Die DA kry nie weer my kruisie nie. Vraag is wie anders? Die is ANC beslis nie ‘n alternatief nie. Dit laat ons met ‘n probleem. Dit is uiters verontrustend en gevaarlik.

Penellope Jones ·

Probleem is net as mens nie stem nie, het mens agterna glad nie ‘n stem nie.
Wegbly stem is ‘s ANC-stem en mens moet eerder probeer om die opposisie sterk te kry as om glad nie te stem nie.

Nettie ·

@Penellope – ek kan nie verstaan hoe mense kan redeneer dat ‘n wegbly-stem ‘n stem vir die ANC is nie.

Ek het nog nooit ANC gestem nie en sal ook nooit ANC stem nie, maar die DA kry ook nie my stem nie – nie in die Munisipale verkiesings laaskeer nie, en ook in geen verkiesing sedert 1999 nie. WANT: hulle staan nie vir my nie; buiten die gemeenskapsverantwoordelike pligte wat die DA in die Wes-Kaap moet volvoer, doen die DA (trouens, geen party) niks vir my nie. Die DA is in my opinie maar net die “ANC-lite”. Hulle gee nie ‘n snars om vir die blanke burgers in Suid-Afrika nie; al wat tel is hul Kaapse Kleurlinge Korps en hul verwaterde poginkies om swart stemme te werf (wat hulle in elk geval nie gaan kry nie, want g’n tradisionele swarte sal ooit DA stem nie).

So, ek stem NIE WEER in enige verkiesing nie, nie Nasionaal nie, nie Provinsiaal nie en ook nie Munisipaal nie. Want ek tel nie.

henk ·

wel, so het die anc waterheffings tydens droogte in Nelspruit ingestel en is dit NOOIT verwyder na die reen gekom het en damme vol geloop het nie. en die DA het NIKS daaraan gedoen nie!!??

marous ·

Almal in die land is in dieselfde bootjie . Sommige dink hulle het reddings baadjies en ander hou aan emmers sement vas. Meeste het niks en kan nie swem nie . Die boot gaan sink en daar is geen land in sig of ander boot naby , en dit krioel van ongediertes in die diep donker waters . Die nagmerrie is geskep deur dieselfde klomp wat die boot vol gate geboor het en nou gil vir hulp. Dit is die suikerkant van die storie….

Ben ·

Beplan nie om vir hulle meer te stem. Ons kry uiters swak diens maar die fiasko van ‘n verdeelde party is die finale kersie op die koek. Almal van ons weet dat ‘n verdeelde party nie kan staan nie. Dit is uiters onwys waneer die stadsbestuur die lewe vir vir sy eie mense onmoontlik maak. Geld, Geld dit is al wat hulle wil he. Gierigheid. Ons praat weer na die verkiesing.

Elize ·

Ek weet in elk geval nie waaroor die ANC/DA debat in die Wes Kaap gaan nie. Of jou streek nou ANC of DA of wat ookal is, die hele SA is in chaos gedompel. Die Kaap is veronderstel om DA te wees, maar kyk wat gaan hier by ons aan. Brand, moor, roof, betoog ens ens. So wat help jou stem in elk geval. Die ANC en EFF regeer die ganse SA ongeag watter party veronderstel is om die leisels vas te hou.

Elsie Esterhuizen ·

The DA is losing members on a big scale….
If you want to hit a dog you WILL FIND A STICK….. I am sorry but they making Patricia life a living hell… I wont vote for them… My vote is going to Cope…..

Magda ·

Ek stem, DA/ANC doen niks vir ons nie, dink dis tyd dat ons ons stem vir Cope gee

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.