AfriForum het vandag tydens ’n blitskonferensie in Pretoria ’n handleiding oor grondgrype bekendgestel. Dié burgerregte-organisasie het ook tydens die konferensie beklemtoon dat gemeenskappe self hul eiendom moet beskerm en nie op die staat moet wag nie.
Die stelling is versterk deur veranderende wetsontwerpe oor grondonteiening, maar ook deur die Suid-Afrikaanse regering self, wat al meer Zimbabwe se styl van grondhervorming aanneem.
“Ons as grondeienaars het regte. Ons kan ons eiendom beskerm deur reg te reageer in besettingsgevalle, maar veral deur proaktief op te tree om besetting te verhoed. Wanneer strukture opgerig word en besetters onversteurde verblyf geniet, moet ʼn siviele saak deur die hof gedryf word. In die geval waar besetters kennis dra dat hulle onwettig grond betree, kan strukture afgebreek word mits daar ’n betredingsaak by die polisie oopgemaak is. Die polisie moet egter ten alle tye ingevolge die betredingswet optree,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.
Paraatheid, buurtwagte, toesig op eiendom, okkupasie en toegangsbeheer is van die proaktiewe oplossings wat in die handleiding bespreek word. Die benadering van onwettige strukture, onbewoon sowel as bewoon, word ook behandel.
Cameron het gesê dat die staat met regsoptrede tot verantwoording geroep kan word, maar dat gemeenskappe self hul eiendom met plaaslike veiligheidsinisiatiewe soos buurtwag- en plaaswagstelsels moet beskerm.
“Voorkoming is beter as genesing,” het Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, gesê.