Hanekom ook dalk die deur gewys

Derek Hanekom, voorsitter van die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee. Foto: Flickr/GovernmentZA

ANC-LP Derek Hanekom kan dalk binnekort sy pos as voorsitter van die party se Nasionale Dissiplinêre Komitee (NDK) kwyt wees.

Die ANC het gesê om die party “se reputasie en integriteit te beskerm”, is Hanekom tien dae tyd gegee waarin hy redes moet verskaf hoekom hy nie uit sy pos verwyder moet word nie.

Hanekom, wat vroeër vanjaar tydens pres. Jacob Zuma se middernagtelike kabinetskommeling uit sy pos as minister van toerisme verwyder is, het die ANC met ’n paar twiets beledig in aanloop tot die mosie van wantroue in Zuma vroeër vandeesmaand. Zuma het die mosie, wat met ʼn geheime stemming beslis is, oorleef, maar dit was duidelik dat sommige ANC-lede saam met die opposisie gestem het.

Voordat die stemmery plaasgevind het, het Hanekom in Engels getwiet: “Verwerp hierdie idee van ‘stem saam met die opposisie’. Ons moet stem teen staatskaping, massiewe plundering en korrupsie. Stem vir verandering.” Hy het ook getwiet: “Geheime stemming. Geen vergelding, want niemand sal weet wat jy gestem het nie. Dit moet ʼn stem teen staatskaping wees!”

Die ANC het Hanekom Sondagaand gevra om redes te verskaf hoekom hy toegelaat moet word om in sy posisie in die NDK te bly.

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het geskryf: “Om die integriteit en die reputasie van die ANC en sy dissiplinêre struktuur, die NDK, te beskerm, word daar van jou vereis om binne tien kalenderdae van die datum van hierdie brief redes te verskaf hoekom jy nie as voorsitter van die NDK verwyder moet word nadat jy sulke uitsprake in die openbaar gemaak het nie.”

Hanekom kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Hanekom is nie die eerste ANC-LP wat moontlik die trekpas gaan kry nadat hy hom teen Zuma uitgespreek het nie. Dr. Makhosi Khoza is vroeër vandeesmaand van haar amp as voorsitter van die portefeuljekomitee van openbare dienste en administrasie met onmiddellike inwerkingtreding onthef nadat sy haar teen Zuma en die ANC-leierskap uitgespreek het. Die ANC het gesê Khoza is uit haar pos verwyder “weens onherstelbare skade aan die verhouding tussen haar en ANC-lede van die komitee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lynni ·

Hoekom het hy in eerste plek by ANC gaan aansluit ? Hy is nog steeds vir ANC, wil net ander leier hê.

marous ·

Ag siestog , seker daar is vir hom ‘n plekkie by een van die seunse weenkoor se huise …met baie sekuriteit.

Anoniem ·

Soos in die fliek iRobot gesê is: “Somehow ‘I told you so” doesn’t quite say it”, né FW, né Max, né Derek, né Marthinus…

anti teem ·

anoniem jy en 9/10 van almal wat so te£f en kerm gaan stem nooit nie. julle is te wit om tussen die gepeupel te staan om n kruisie te trek. so moenie vir fw, max en ander voorpraters blameer vir jou eie versuim nie. gaan staan sure in die you en trek jou kruisie.

Eish ·

Weereens n bewys van waar die regering se prioriteite lê. Nie by die land nie maar die organisasie.

Uncle P ·

Die ANC het gesê om die party “se reputasie en integriteit te beskerm”, i Whahahhhhahhhh lekker lag ek nou

Barnard ·

Jip en nou? Neewat ou jy is uitgedien en uitgegooi nes de klerk en roelfie sy meeloper. Ek voel n veer.Pak maar jou tassies en gaan kuier by die oosbloklande .Die begin van die gekonkel en waarvoor jy staan.Hulle sal jou verwelkom maar nie respekteer nie.Net soos ons jou nie respekteer nie.Jy het nou alles verloor want sonder respek is jy niks.Jy besef dit seker net soos de klerk en roelf.

Andre ·

@anti teem: hoekom moet ons in toue gaan staan en kruisies trek terwyl jy en jou meelopers in ’92 toegestem het vir vrywillige oorgawe? Gaan staan jy in die toue en maak jouself wys jou stem gaan tel. Ek voel niks vir jou broeder Hanekom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.