Hanekom teen Zuma oor spioenasiebewering

Derek Hanekom (links) en die anti-apartheidsaktivis Sunny Singh in die hof. (Foto: ANA)

Die regsverteenwoordiger vir die ANC-ringkop Derek Hanekom het Vrydag aan die hooggeregshof in Durban gesê haar kliënt dra die etiket as ANC-spioen met eer, maar vind dit lasterlik en gevaarlik van oudpres. Jacob Zuma om te suggereer dat Hanekom ʼn spioen vir die apartheidsregering was.

“Mnr. Hanekom is vir hoogverraad tronk toe gestuur omdat hy as ʼn ANC-spioen beskou was en hy is trots op die rol wat hy gespeel het. Maar om ʼn spioen vir die vyand genoem te word, is so lasterlik as wat dit kom,” het adv. Carol Steinberg, namens Hanekom, aan die hof gesê.

Hanekom het die hofverrigtinge saam met sy vrou, Trish, hulle seun, Braam, asook verskeie ondersteuners, onder wie oudminister Barbara Hogan en anti-apartheidsaktivis Sunny Singh, bygewoon.

Zuma – wat die aansoek teenstaan – was nie in die hof nie.

Hanekom, ʼn lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee, het die lastereis teen Zuma ingestel ná die oudpresident ʼn twiet geplaas het waarin hy na Hanekom as ʼn “bekende agent van die vyand” verwys.

Zuma het op 25 Julie aan sy meer as 300 000 volgelinge getwiet dat hy nie verbaas was deur EFF-leier Julius Malema se onthullings oor Hanekom nie. Malema het vroeër aangevoer Hanekom was deel van ʼn groep ANC-lede wat Zuma met ʼn mosie van wantroue wou ontsetel toe hy nog president was en dat hy hulp by ander partye daarvoor gesoek het. Die mosie het nie geslaag nie.

Steinberg het aangevoer dat dít nie ter sake is nie. Dit is algemeen bekend dat Hanekom nie ʼn Zuma-ondersteuner is nie en dat hy wou hê dat die oudpresident uit sy amp verwyder moes word. Sy het gesê die probleem is hoe gewone burgers Zuma se twiet sou verbind met sy getuienis voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek en tot die gevolgtrekking sou kom dat Hanekom vir die apartheidsregering gespioeneer het.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: (Pool Photo via AP)

Van Zuma se getuienis voor die kommissie het ingesluit dat daar ʼn dekade lange “sameswering” deur nasionale en internasionale agentskappe, en deur groepe en individue – ook spioene uit die apartheidsera – was wat die regerende party geïnfiltreer het en hom as president wou ontsetel en die ANC as regerende party wou verwyder.

Steinberg het aangevoer as die twiet gesien word saam met die oudpresident se stellings aan die kommissie, kan daar net tot een slotsom gekom word.

“Selfs sonder die verwysing na die Zondo-kommissie, waar een senior lid van die ANC ʼn ander ʼn bekende agent van die vyand noem, is die logiese afleiding [dat Hanekom] ʼn apartheidspioen [was],” het sy gesê.

Hanekom vra ʼn hofbevel wat Zuma verbied om enige stelling te publiseer waarin hy beweer of impliseer dat Hanekom ʼn agent vir die vyand of ʼn apartheidspioen was. Hy eis ook ʼn verskoning, dat die twiet herroep word en R500 000 in skadevergoeding. Hanekom sê hy en sy vrou is sedert die twiet met die dood gedreig.

Zuma staan die aansoek teen en voer aan hy het nooit Hanekom se naam voor die Zondo-kommissie genoem nie en dat Hanekom in sy beëdigde verklaring na homself as ʼn apartheidspioen verwys.

“[Hanekom] se poging om die twee saam te flans is moedswillig omdat hy my probeer verhoed om voort te gaan met die onthullings wat ek aan die Zondo-kommissie wil maak. Dit mag hom insluit of nie, maar vir die huidige doelwit het my twiet niks te doen met of hy ʼn apartheidspioen was of nie,” het Zuma in sy verklaring gesê.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos ·

En ons moet nie asem ophou dat die howe hom sal dwing nie. Howe is mos ‘n westerse konsep.

Rudi Heymann ·

Hy was ‘n spioen vir die ANC tydens die Nasionale regering, en dus, per definisie, vir die destydse regering se vyand.

ChrisE ·

Ramaphosa het gepraat van blankes wat in ‘n pot water sit en die water moet verhit word. Ek het nuus vir die regeringsbende. Julle bende is soos ‘n gat. Elke aksie/stryery is soos ‘n kat. Die kat word in die gat afgegooi. Aanvanklik het die katte lekker saam gebly. Op ‘n dag word daar kos (geld) in die gat afgegooi. Party katte gryp meer as ander katte en word vetter. Die maer katte sien dit en raak knorrig. Dan begin die pret. Ek is baie verheug dat die katte nou begin ware kleure wys en op mekaar begin draai. Kat gaan begin kat eet.

Boeta ·

Kinderagtig! NIKS beters om te doen!’
Mors van tyd en staatsgeld!

Rubber ·

As die ANC begin om korruptes in die tronk te stop, misdadigers behoorlik te straf, op hou met ANC propaganda in skole, skole ‘n plek maak waar dissipline toegepas word en messtekers na kindertronke gestuur word, onwettige aliens verbied word om ons leeg te suig, dis die dag wat die land sal verbeter. Of beter nog as die ANC SAKP EFF aliansie, sê klem om ons nekke gestop word.

Cherokee ·

Hanekom, vir ingeval jy wel hier lees, as jy liewer gelieg het deur voor te gee dat Zuma die waarheid oor jou vertel, sou jy dalk meer respek terug gewin het vanaf diè deel van die bevolking wat jou wolhaarstorie sou geglo het, as wat die R½m werd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.