Die konstitusionele hof het oudpres. Jacob Zuma se aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshofuitspraak in die lastersaak van oudminister Derek Hanekom van die hand gewys.
Zuma se aansoek om verlof tot appèl is vroeër die week met koste van die hand gewys nadat die hof bevind het dit het geen vooruitsig op sukses nie.
Die hoogste hof van appèl het Zuma se aansoek om verlof tot appèl in Mei ook van die hand gewys waarna hy die konstitusionele hof genader het.
Hanekom, ʼn ANC-veteraan wat verskeie kabinetsposte beklee het, het Zuma gedagvaar toe dié in Julie verlede jaar op Twitter aangevoer het Hanekom “is ʼn bewese agent vir die vyand”.
Hanekom het Vrydag die konstitusionele hof se beslissing verwelkom. “Valse aantygings is onverantwoordelik en gevaarlik,” het Hanekom gesê.
Die Durbanse hooggeregshof het in September verlede jaar bevind Zuma se plasing was “onwaar, lasterlik en onwettig”.
Zuma is beveel om die plasing binne 24 uur te verwyder en om Hanekom om verskoning te vra. Hy is ook verbied om ooit weer aan te voer dat Hanekom ʼn spioen was vir die wit minderheidsregering.
Hanekom was een van die mees senior lede van die regerende party wat aangevoer het dat die ANC Zuma uit die presidensie moet verwyder toe hy al hoe meer geïmpliseer is in die staatskapingskandaal.
Zuma en sy prokureurs het aangevoer die Twitter-plasing is buite konteks gelees en dit is algemeen bekend dat Hanekom met opposisiepartye saamgespan het om hom uit sy amp te verwyder.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Ag Shame. Ek kry Mnr Zuma so jammer. Hy is mos altyd onskuldig. Gaan hy nou betaal, of moet die belastingbetaler nou weer boet vir sy onnoselheid.
So verstaan ek reg, Zuma baklei nog die uitspraak dat hy moet om verskoning vra vir Hanekom en nie weer dit mag sê nie? Die uitspraak is reeds so lig en zuma wil dit baklei?
Nie dat ek van hanekom enigsins meer dink as van zuma ;-(
Hond byt hond
Geen wonder so koud nie. Iemand het teen Zuma gewen. Wie gasn Zuma se regskoste dek