Hankey-boer geskiet: ‘Ons het te gemaklik geraak’

Ig Maas (72) is Woensdag op sy plaas in Hankey in die Oos-Kaap geskiet. (Foto: Verskaf)

Toe Ig Maas (72), ʼn boer van Hankey in die Oos-Kaap, se honde Woensdag omstreeks 18:15 verwoed begin blaf, het hy en sy vrou, Lorraine (69), vermoed dit is die luiperd wat hulle onlangs op hul plaas gewaar het.

ʼn Onbekende aantal gewapende aanvallers het egter op Maas losgebrand toe hy by die agterdeur uitstap om ondersoek in te stel. Hy is een keer in die been geskiet nadat die aanvallers vyf skote afgevuur het.

Maroela Media het vroeër berig dat Maas self gewapen was en op die aanvallers teruggevuur het, waarna hulle van die toneel gevlug het.

“Ek het regtig gedink dis weer die luiperd en daarom het ek uitgestap. Ek het glad nie onraad vermoed nie. Ek besef nou dit was ʼn fout, maar ons is dankbaar om nog hier te wees,” sê Maas.

Hy bieg dat hy waarskynlik oor die afgelope tien jaar “te gemaklik” geraak het aangesien daar nog nooit voorheen so iets op die plaas, waar hy onder meer met beeste en lusern boer, gebeur het nie.

“Ek het egter altyd my vuurwapen by my. Ek was destyds in die Valskermbataljon en is opgelei om vuurwapens te hanteer. Ek gaan nooit daarsonder by die huis uit nie.

“Ons behoort ook aan ’n plaaslike veiligheidsgroep wat absoluut puik is en binne minute op die toneel was nadat ek ʼn stemboodskap op die groep gestuur het.

“Ons buurman woon sowat 3 km van ons af en het hom onmiddellik na die plaas gehaas. Binne ʼn paar minute was daar seker 40 mense, onder wie die polisie, by ons.”

Die aanvallers het gevlug sonder om iets te steel.

Maas sê hy het aanvanklik nie besef hy is raakgeskiet nie.

“Die aanvallers het ʼn waterpyp teen die muur raakgeskiet. Eers toe die water my natspuit en ek afkyk, het ek die bloed gesien.

“Ek is terug in die huis en het die deur gesluit. Ek het vir my vrou gesê ‘bel die ambulans, ek is geskiet’.”

Maas sê sy vrou was paniekbevange, veral omdat sy nie geweet het waar hy raakgeskiet is nie.

“Die voorval het haar nogal getraumatiseer, maar ons sal sorg dat sy berading ontvang.”

Maas is ná afloop van die voorval na die hospitaal geneem en later dieselfde aand ontslaan.

“My been is effens geswel, maar ek kan op hom trap. Die koeël het my maermerrie gelukkig gemis en is regdeur.”

Maas sê hulle sal nie weens die voorval in vrees lewe nie, maar hulle sal beslis hulle paraatheid opskerp.

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord. Geen nuwe inligting is in dié stadium bekend nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en dit is ook nie duidelik of enige aanvallers tydens die voorval beseer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Grassie ·

Mnr Maas lyk na ‘n taai man. Miskien is die rowers gelukkig dat hy na hulle geskiet het en hulle nie met die vuis getakel het nie. Sterkte, mnr Maas, ek hoop jy dons hulle volgende keer goed op.

Tiptol ·

Grassie, goed gesê. Ek dink ook die rowers was gelukkig. Daai arms kan seer maak.

Thelsa ·

Wonder teen wie word die klag van moord ondersoek ????????

Cherokee ·

Niemand spesifiek is aangekla nie. Dit word ondersoek. Tsk! (o ja ????????)

Menan ·

POGING tot moord. Nie moord. Wanneer hulle die boosdoeners kry, sal hulle dus aangekla word vir POGING tot moord.

Frank John ·

Geseëned is julle. Maar julle moet weet, as jy op die plaas in SA bly is daar mense wat wil roof en plunder. Wees baie verdag en neem elke situasie as ‘n moontlike aanval. Maar ons sal hierdeur kom. Ons God slaap nie. Die dag van rekening is naby. Sterkte.

ES ·

Puik gedaan!

Baie bly jy was nie te ernstig beseer nie en dat jy bewapen was en jouself teen die booswigte kon beskerm. Die beste verdediging teen ‘n booswig met ‘n wapen is ‘n opgeleide burger met ‘n wapen.

Ian ·

Hierdie aanvalle ganie stop nie inteendeel dit gaan meer word. Dit gaan oorspoel in die dorpe ook eintlik het dit alreeds begin. Dis een van die redes hoekom jou wapen van jiu gevat wil word. Jy moet nie kan verdedig nie. Lafhartig die klomp goed.

Harley Davidson ·

As ek so na daardie oom se arms kyk dink ek die aanvallers was baie gelukkig om weg te kom,mede boere neem kennis en pas toe.

Elize ·

Nee die oom lyk nog goed vir sy ouderdom. Baie bly julle is daar om die storie te vertel.

Cherokee ·

Aan die taalkenners:
Is iemand wat ‘n wapen by hom of haar het, bewapend of gewapend? Lg klink vir my meer reg.

Samuel ·

Wat het die boer gedoen om die aanval te verdien? Ek hoop die aanvallers opgespoor word en toepaslik gestraf sal word.

Emily ·

Samuel, hulle word Nooit gevang nie, en indien so, dan is hulle binne n dag weer uit om te gaan moor Nie roof nie.

Blomme ·

Ek hoop hulle soek hard genoeg om die skurke te vind. Te veel van hulle verdwyn net tussen die massas en word nooit verantwoordelik gehou vir hul dade. Ek wens daar wil net eenkeer ń goeie voorbeeld gemaak word van hierdie plaasaanval skurke.

Toy ·

So bly julle is veilig, behalwe vir die skietword, hoop jy voel gou beter.

Vernon ·

Verpeste lafaards. Stert tussen die bene toe daar terug geskiet word,mooi Mnr. Maas. Wonder waar is die hoed? As hy nie homself en sy vrou verdedig het nie was hy nou dood!!

Sandra ·

Mnr Maas is een tough cookie. Hy vat nou nie strooi van kabouters nie. Baie positiewe mens. Ag, hulle het my nou wel in my been geskiet, maar hulle het gelukkig my maermerrie gemis. Die vrou sal berading kry. Do so voort Mnr. Sterkte vir julle.

Boerin ·

Ek’t weer gedink dis die nagapies op die dak en later dat iets teen my voordeur vasgehardloop het!
Behalwe vir die hand van die Here, was die feit dat ek uit gewoonte my 9mm saamgevat het om te kyk, my redding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.