Hankey-ma: ‘Ons het nie oorleef om gebroke te wees’

“Ystervrou.” ‘n Vrou van Hankey wat saam met haar kinders op ‘n plaas aangeval is, praat oor die gebeure. (Foto: AfriForum)

“Ons het oorleef vir ʼn rede. Ons het nie oorleef om gebroke mense te wees nie. Ons het oorleef sodat ons vol lewens kan lei. Ek wil nie dood wees nie. My kinders wil nie dood wees nie. Ons sien uit na die toekoms.”

Só het die vrou (44) en ma van drie kinders van Hankey wat in ʼn plaasaanval geskiet en verkrag is, Donderdag gesê nadat die gesin se aanvaller swaar gestraf is vir die wrede aanval op hulle verlede jaar.

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het Sebenzile Simane (32) gister op 17 aanklagte teen hom skuldig bevind. Vonnisoplegging was vroeër vandag.

“Ek is só bly dat hy nooit uit die tronk gaan kom nie, maar dis moeilik as iemand ook nooit gaan sê hy is jammer, of net erken wat hy gedoen het nie. Hy voel nie sleg nie.”

Die vrou het gesê die hofverrigtinge was uitmergelend en dat die gesin verlig is dat dit agter die rug is. “My kinders glimlag,” het sy gesê.

“Ons is sterk saam, danksy die verhouding tussen my en my man en tussen ons en ons kinders. Ons het ʼn baie oop verhouding en het nog altyd gehad. Ek het gepraat (oor die voorval) en die kinders weet altyd wat ek sê. Ons staan bankvas bymekaar. Om stil te bly gaan niks verander nie,” het sy aan Maroela Media gesê.

Die vrou het gesê hoewel sy ná die aanval geensins in vrees leef nie, is sy tog uiters veiligheidsbewus. Die gesin woon ná die aanval ook nie meer op die plaas waar dit gebeur het nie. Wanneer hulle pa die plaas deesdae besoek, is die kinders se grooste vrees dat hy daar iets oorkom.

Die gesin in gelukkiger tye op die plaas. (Foto: Verskaf)

Hulle het intussen na ʼn nuwe huis getrek. “Dit was te erg vir die kinders. Ons was een of twee keer terug, die kinders het hulle goedjies gaan haal.

“Ons het vir hulle ʼn nuwe tuiste geskep. Hulle moet heel word, maar daar kan nie genesing wees as hulle terugkeer na ʼn plek met slegte herinneringe nie.”

Die vrou het gesê hoewel die hofsaak nou afgehandel is, gaan sy onverpoos werk om plaasaanvalle aan die groot klok te hang.

“Voordat hierdie [ding] met ons gebeur het, het ek artikels oor plaasaanvalle gelees en voorvalle op Facebook gesien. Dit het nie tot my deurgedring dat ons volgende kan wees nie. Dan gebeur dit met jou en jy besef dis ʼn werklikheid,” het sy gesê.

Die vrou sê deur te praat oor die plaasaanval wil sy bewusmaking oor dié gruwel skep.

“Mense moet weet: Dit gebéúr.”

Dié ma, wat as ʼn ystervrou beskryf word, sê egter sy weet misdaad raak álmal: van gesinne op plase tot diegene wat in bendegeweldgeteisterde gebiede moet probeer oorleef. “Ek is nie spesiaal nie, dit gebeur oral.”

Sy sê sy is egter uiters geesdriftig daaroor om voort te gaan met bewusmaking oor spesifiek plaasaanvalle en hoop die regte mense – in Suid-Afrika én die buiteland – hoor die boodskap en dat daar genoeg druk op die regering geplaas word om daadwerklik op te tree.

“Dis net té erg.”

Sy het gesê die gesin gaan nou, ná die verhoor, gehalte-familietyd geniet en net rustig wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Siener ·

Ek is baie trots op die dame om so positief te wees na wat met hulle gebeur het. Sterkte vir die pad voorrentoe. Ek hoop dat ander boere by hierdie verhaal iets kan leer. Niemand gaan jou beskerm nie. Jy en jou gesin (Man, Vrou en kinders oud en jonk) is verantwoordelikvir julle eie veiligheid en beskerming. Bewapen jouself en steek wapens weg in elke vertrek in jou huis. Leer om dit effektief te gebruik. Wees voorbereid en oefen ‘n skyn aanval in met al die moontlike veranderlikes. Dis al hoe jy as Boer familie gaan oorleef in hierdie wrede wereld. (Dra jou wapen 24/7 en leer jou hele familie alles oor selfverdediging. Dis al wat op die ou einde jou en jou familie se lewens spaar). Mag God hierdie familie styf vashou.

Fran ·

Ek is uit my diepste wese jammer vir julle almal. Ek wens ek kon julle die trauma gespaar het. Julle is sterk in Jesus. Dit sal weer eendag goed gaan.

Boer ·

Van een boer aan n ander kan ek julle net absolute sterkte toewens en vir julle bid. Jou positiwiteit is egter n riem onder die hart veral waardeer jy moes gaan en wil ek glo jy het tog sterker ander kant uit gekom. Kyk net mooi na die kinders hulle gaan julle nou nog meer nodig he as ooit te vore.

Rika ·

Baie sterkte aan die familie dink aan julle en mag die Liewe Vader elke dag saam julle stap.

Willem Grobler ·

Mevrou, met vrouens soos u aan ons kant het ons dalk ‘n kans om die aanslag teen ons volk te oorleef! Baie sterkte vir u en u gesin.

MS ·

Ek haal my hoed af vir jou. Jy verdien jou titel “Ystervrou” n miljoen keer oor. Mag die Here julle seen.

Willie ·

Mev jy is voorwaar ń ystervrou. Dit is vrouens soos jy wat sal help dat hierdie volk van ons vas bly staan. My woordeskat is te klein om te beskryf hoeveel ek jou moed en vasberadenheid bewonder. Mag ons Vader self jou en jou gesin dra deur die tyd wat volg sodat julle ten volle kan genees, fisies sowel as geestelik. Baie sterkte en seën vir julle.

KaterinaKat ·

Hierdie vrou is n massiewe inspirasie!! Nie net vir mense wat deur misdaad, verkragting en geweld, moorddadige aanvalle ens geraak is nie – maar vir Almal wat sukkel met verskeie groot probleme en swaar tye in hul lewe. Wow!! Respect!!

Lana ·

Vrou, ek het groot respek vir die manier hoe jy hierdie ding hanteer. Met so ‘n ma SAL jou kinders hieroor kom.
Seën vir julle gesin!!!

John Ferreira ·

Nooit uit die tronk kom nie? Sê wie? Hou maar dop.

Sterkte aan die familie…..julle is dapper

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.