Hankey-plaasaanvaller swaar gestraf

Die gesin in gelukkiger tye op die plaas. (Foto: Verskaf)

Sebenzile Simane (32) is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth swaar gestraf vir die wrede aanval op ʼn plaas buite Hankey waartydens ʼn ma van drie geskiet en verkrag is.

Regter Olav Ronaasen het Simane Woensdag op 17 aanklagte skuldig bevind. Hy het Simane Donderdag op die twee aanklagte van verkragting tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot verkragting.

Op die aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, die dwing van ʼn kind om ʼn seksuele oortreding te aanskou, die vier aanklagte van poging tot moord en nog ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede in verband met ʼn ander saak is hy tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op elke aanklag.

Hy is op die aanklag van huisroof en die vier aanklagte van ontvoering tot vyf jaar tronkstraf op elke klag gevonnis. Op die aanklag van die onwettige besit van ammunisie is hy tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder wat by die saak betrokke was, het gesê hulle is verheug dat die hof ‘n voorbeeld gemaak het van die soort “sadistiese bloeddorstige aanvalle” op boere en hul gesinne.

“Ons vertrou dat ander howe hierdie voorbeeld sal volg ten einde die erns van die vlaag van plaasaanvalle wat die land teister onder die loep te bring, en geregtigheid te laat seëvier. Dit bly egter ‘n skrale troos vir slagoffers wat die stukke van hulle lewe moet optel en aanbeweeg. AfriForum sal volhou daarmee om ondersteuning te bied ten einde hierdie pad tot herstel wat voorlê meer draaglik te maak.”

AfriForum het die vrou van die begin van die saak af bygestaan en Kamfer het nou saam met die regspan gewerk om seker te maak die saak word na behore afgehandel.

Die ma het vroeër tydens die verhoor getuig sy en haar drie kinders “is soos diere gejag” die aand van 23 Maart verlede jaar toe Simane by hul plaashuis ingebreek het.

Die kinders het in die gang afgehardloop gekom en die twee jongste kinders het in haar slaapkamer ingehardloop terwyl die tiener na die badkamer gehardloop het. In dié stadium was sy reeds geskiet en het sy haar liggaam teen die deur gedruk om te probeer keer dat Simane in die kamer kan kom. Hy het egter begin skote afvuur.

Simane kon daarin slaag om in die slaapkamer te kom nadat hy die skuifdeur se glas stukkend geskiet het. Hy het in die kamer ʼn vuurwapen teen die negejarige seun se kop gehou. Simane het die gesin later na die sitkamer gedwing waarna die tiener ook met sy hande in die lug by hulle aangesluit het.

Volgens die vrou het Simane geglo daar word R9 000 aan hom geskuld en het hy vir die kinders gesê hy is kwaad vir hul pa. “Hy wou weet waar my man was en het gesê hy sal hom eerste en dan die res van ons doodmaak.”

Sebenzile Simane. Foto: ANA

Die vrou het getuig sy het vir Simane R600 uit haar handsak gegee, asook haar bankkaarte en vir hom gesê hy kan nog geld by ʼn kitsbank gaan trek. In dié stadium het Simane hulle begin vasbind. Hy het na die kinders gedraai en gesê hy gaan hul ma verkrag en hulle gaan moet kyk.

Die vrou het hom gesmeek om haar nie voor haar kinders te verkrag nie waarna hy haar na die slaapkamer gesleep en op haar bed verkrag het. Nadat Simane haar verkrag het, het hy haar een dogter gaan haal en haar langs haar ma op die bed laat sit. Hy het toe gedreig om haar ook te verkrag.

“Ek het net geskree: moet haar asseblief nie verkrag nie, sy is te jonk. Sy is net 12 jaar oud, dis nie moontlik nie. Moet haar asseblief nie verkrag nie.”

Die vrou is hierna voor haar dogter verkrag. “Hy het seker gemaak sy sou kyk, al het sy probeer wegkyk.”

Sy en haar dogter is later teruggevat na die sitkamer toe en sy het aangebied om hom na ʼn kitsbank te neem aangesien hy nie haar motor aangeskakel kon kry nie. Sy was in dié stadium al baie swak aangesien sy baie bloed verloor het, maar sy het met hom dorp toe gery waar hy teen omstreeks 23:30 R4 000 onttrek het. Simane wou nog geld trek en het hy vir haar gesê om na ʼn grondpad te ry en daar te wag tot middernag. Terwyl hulle gewag het, het Simane weer gedreig om haar op die agterste sitplek van haar voertuig te verkrag.

Die vrou het in dié stadium besef sy het baie bloed verloor en vir hom gesê sy “weet hy is nie ʼn slegte persoon nie” en by hom gepleit om haar kinders te gaan haal en na ʼn hospitaal toe te gaan.

Simane het kort ná middernag nog geld onttrek, die sakke vol goed wat hy geroof het, gevat en vir die vrou totsiens gesê voor hy op die vlug geslaan het.

Volgens die vrou het sy terug na die plaas gery en gesien daar is ligte aan by familie van haar man se huis. “Hulle het met hul vuurwapens uitgekom en die kinders was reeds daar. Ons was almal in so ʼn toestand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Netso

Oor 6 jaar loop hy weer buite en werk soek!

Jordaan

Dit is goed, maar dit is jammer dat hy nou op staatskoste moet onderhou word. Sou veel beter wees as hy maar net uit die weg gemaak kon word.

Strand looper

En sal seeker soos n held in die tronk behandel word en 5 jaar later weer op straat….so verkeerd

Willem van der Merwe

Nou gaan hy na ń plek waar hy ń held gaan wees,dit is nie tronkstraf nie. Die gesin se lewens lange tronkstraf het het al begin en is ń ware tronkstraf. Net mense wat al deur ń verkragting in die gesin is sal weet wat dit doen aan ń vrou,die hele gesin word gestraf,jy kry jou beter dae maar meestal is dit slegven die beter dae is nie goeie dae nie

Wurmpie

Dit nou net nog een wat ons belasting geld gaan opeet in tronk. Groot straf is Doodstraf