Hanru: Eerste dag as Affie

Hanru Pienaar pronk in sy Affies-drag (Foto: Verskaf)

Hanru Pienaar (13), die tienerseun wat wonderbaarlik herstel het nadat ’n gevaarlike gewas in Januarie langs sy regternier verwyder is, het Maandag sy hoërskoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunskool afgeskop. Intussen het Hanru se toetsuitslae gewys daar is geen kanker meer in sy lyf nie.

“Hy het sy eerste skooldag geniet. Hy is gaande oor Affies,” vertel sy ma, Lizette Pienaar, wat oorstelp is van dankbaarheid dat haar seun nou wel skool toe kan gaan.

“Die matrieks is baie oulik met hom. Affies ondersteun hom baie. Hy sê die skoolhoof is ’n groot Jesus-kind.”

Hanru mag ná die operasies en breintrauma vanjaar geen sport beoefen nie, maar hy sou graag hokkie wou speel.

Hanru is op 29 Januarie ná byna drie weke in die hospitaal ontslaan. In dié drie weke het hy twee breinoperasies, ’n operasie om die gewas langs sy nier te verwyder én ’n beroerte deurgemaak. Die hospitaalpersoneel beskryf Hanru se vinnige herstel as ’n absolute wonderwerk omdat sy brein op verskeie plekke gebloei het.

Hanru het verlede Woensdag weer vir ’n skandering by die Donald Gordon-hospitaal gegaan om te kyk of daar nog enige gewasse in sy liggaam is. Die dokters het vermoed dat daar dalk nog ’n gewas kan wees wat veroorsaak dat sy bloeddruk nie stabiliseer nie. Hy het ook ’n nierfunksietoets ondergaan sodat die dokters kon bepaal of sy regternier nog werk soos dit moet.

Die dokters het Hanru en sy ma Maandag laat weet die toetsuitslae wys daar is geen kanker of gewasse in sy liggaam nie. Die dokters sal aanhou om sy bloeddrukmedisyne aan te pas en om sy bloeddruk só te stabiliseer.

Hanru en sy vriend Zach Visser op sy eerste dag van skool (Foto: Verskaf)

“Alle eer aan God. En groot dank aan almal se gebede,” sê Pienaar.

Hanru is op 10 Januarie in die Netcare Waterfall City-hospitaal in Johannesburg opgeneem nadat hy erge hoofpyne begin kry en onophoudelik opgegooi het. Twee dae later het die dokters vasgestel dat Hanru ’n gewas langs sy regternier het wat moontlik sy bloeddruk erg verhoog en bloeding op sy brein veroorsaak het. Die gewas is suksesvol verwyder.

Hy het ook twee breinoperasies ondergaan om die drukking en bloeding op sy brein te verlig. Hy het dieselfde dag boonop ’n beroerte gekry wat die linkerkant van sy liggaam verlam het.

Hanru het op 18 Januarie, ná hy ’n week lank onder verdowing was, wakker geword en met Lizette gepraat. Sy het drie dae daarna die goeie nuus ontvang dat die gewas wat verwyder is, nie kwaadaardig was nie.

Ná die operasie het Hanru se bloeddruk wel heeltyd bly wissel en hy is op 24 Januarie per ambulans na die Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas sodat die dokters daar die oorsaak kan probeer bepaal.

Te danke aan die fisioterapie wat hy tot dusver ontvang het, het die spiere aan die linkerkant van sy lyf, wat deur die beroerte geraak is, versterk. Die dokters het ook bepaal dat daar minimale neurologiese skade was.

Maroela Media het vroeër berig vriende en familie het intussen fondsinsamelingsinisiatiewe vir Hanru se mediese uitgawes van stapel gestuur, aangesien die gesin nie oor ’n mediese fonds beskik nie. Lizette het haar vaste inkomste in Maart verlede jaar verloor weens die Covid-19-inperking en kon nie meer haar mediese fonds bekostig nie. Sy en haar twee seuns woon by haar suster, Juanita Pienaar, aangesien sy nie meer haar woning se huur kon bekostig nie.

Die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies het ook intussen betrokke geraak en help om geld in te samel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Baie goeie nuus. Hoop die jaar bring net die beste vir Hanru en sy familie.

Casper ·

Alle eer aan God die GROOT GENEESHEER.Ek glo die dokter is die instrument IN God se hande.

Rina ·

Ek is saam met Hanru en sy familie dankbaar vir sy vordering!

Net een vraag? As al die ander skole eers 15 Feb begin, hoekom is hy dan gister al skool toe???

Jakez ·

Meeste skole het ‘n dag of twee orientasie vir die nuwe graad 8’s

AmY ·

Fantasiese nuus.
Dankbaar vir Hanru en sy familie.
Hoop ons gaan nog goeie-nuus-stories in 2021 lees.

Deidre ·

Dit is fantastiese nuus, ons Hemelse Vader is groot. Hanru geniet jou jare by Affies en leef dit voluit. Dis seker die lekkerste jare wat jy gaan hê by ‘n puik skool. My seun is een van die Matrieks hierdie jaar daar. Hanru jy het alreeds getoon jy het Affie-guts. Geniet dit en alle sterkte en voorspoed vorentoe.

TO ·

Mag Jesus jou leidsman wees en jou skoolloopbaan seën. Liefde

Jakes ·

Baie bly vir die seun en sy familie. Ons wens hom net die beste en mooiste toe vir die toekoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.