Hanru ontslaan ná gevaarlike gewas verwyder is

Hanru en Lizette op pad huis toe (Foto: Verskaf)

Hanru Pienaar (13) is Vrydag ontslaan ná sy wonderbaarlike herstel nadat ʼn gevaarlike gewas langs sy regternier verwyder is.

Lizette Pienaar is oorstelp dat haar seun ná byna drie weke in die hospitaal uiteindelik ontslaan is. “Hanru is baie opgewonde om by die huis te wees. Hy vra net heeltyd wanneer kom kuier sy maatjies vir hom.”

Vir Hanru was party dae in die hospitaal beter as ander, maar oor die algemeen het hy positief probeer bly. Hy het vir sy ma gesê dat dit slegs God was wat hom deur hierdie tyd gedra het.

Die hospitaalpersoneel beskryf Hanru se vinnige herstel as ʼn absolute wonderwerk omdat sy brein op verskeie plekke gebloei het.

Hanru is op 10 Januarie in die Netcare Waterfall City-hospitaal in Johannesburg opgeneem nadat hy erge hoofpyne begin kry en onophoudelik opgegooi het. Twee dae later het die dokters vasgestel dat Hanru ʼn gewas langs sy regternier het wat moontlik sy bloeddruk erg verhoog en bloeding op sy brein veroorsaak het. Die gewas is suksesvol verwyder.

Hanru in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Hy het ook twee breinoperasies ondergaan om die drukking en bloeding op sy brein te verlig. Hy het dieselfde dag boonop ʼn beroerte gekry wat die linkerkant van sy liggaam verlam het.

Hanru het op 18 Januarie, ná hy ʼn week lank onder verdowing was, wakker geword en met Lizette gepraat. Sy het drie dae daarna die goeie nuus ontvang dat die gewas wat verwyder is, nie kwaadaardig was nie.

Sy herstelpad is egter nog nie verby nie. Hanru se bloeddruk het ná die operasie heeltyd bly wissel. Hy is Sondag per ambulans na die Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas sodat die dokters daar die oorsaak kan probeer bepaal. Die dokters vermoed dat daar dalk nog ʼn gewas in sy liggaam kan wees wat veroorsaak dat sy bloeddruk nie stabiliseer nie.

Hanru moet nou volgende Woensdag weer vir ʼn skandering gaan om te kyk of daar nog enige gewasse in sy liggaam is. Hy gaan ook ʼn nierfunksietoets ondergaan sodat die dokters kan bepaal of sy regternier nog werk soos dit moet.

Te danke aan die fisioterapie tot dusver het sy spiere aan die linkerkant van sy lyf, wat deur die beroerte geraak is, versterk. Die dokters het ook bepaal dat daar minimale neurologiese skade was.

Lizette het van Sondag af by Hanru in die Donald Gordon-hospitaal gebly om hom te versorg en ondersteun. Sy sê dit is nou ʼn groot seëning om hom weer by die huis te kan hê.

Maroela Media het vroeër berig vriende en familie het intussen fondsinsamelingsinisiatiewe vir Hanru se mediese uitgawes van stapel gestuur omdat die gesin nie oor ʼn mediese fonds beskik nie. Lizette het haar vaste inkomste in Maart verlede jaar verloor weens die Covid-19-inperking en kon nie meer haar mediese fonds bekostig nie. Sy en haar twee seuns woon by haar suster, Juanita Pienaar, aangesien sy nie meer haar woning se huur kon bekostig nie.

Die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies het ook intussen betrokke geraak en help om geld in te samel.

Hanru by die huis (Foto: Verskaf)

Hanru is terugverwelkom by die huis (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

Ek het net groot lof vir die dokters en personeel van die Donald Gordan hospitaal. Hulle gaan uit hul pad om jou te help. Sterkte seun en wees net altyd positief en hou vas aan jou geloof.

Zombie ·

Dankbaar vir Hanru en sy gesin!
(Ek wonder maar net of die hospitaalbedfoto van ń minderjarige Hanru werklik nodig is.)

LIEZL ·

Die foto sou nie sonder sy ma se toestemming gepubliseer word nie

Peetjie ·

Sterkte vir jou Hanru. Bly net positief. Steekte ook vir sy gesin, familie en vriende

Androclus ·

Al die lof en eer kom God toe en nie vir die drs nie,want dis God wat hulle bekwaam maak om dit te doen.Pys Sy naam.AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.