Hanru terug op hokkieveld ná breinoperasie

Hanru Pienaar (Foto: Verskaf)

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Dit is die gesegde waarvolgens Hanru Pienaar (14) leef. Dié tienerseun pronk vanjaar weer op die hokkieveld nadat dokters verlede jaar gesê het hy sal dalk nooit weer op die sportveld kan draf nie.

Hanru was Januarie verlede jaar drie weke lank in die hospitaal, nadat ’n gevaarlike gewas langs sy regternier verwyder is. Weens die gewas het hy boonop ’n beroerte en bloeding op die brein gekry, waarna hy twee breinoperasies moes ondergaan.

Die gewas, genaamd Pheochromocytoma, kan weer teruggroei en Hanru moet gereeld toetse ondergaan om die gewas te monitor.

Hanru is amptelik met die SDHB-sindroom gediagnoseer – ’n geërfde geenmutasie wat ’n mens vatbaar vir kankervorming maak.

Die hospitaalpersoneel beskryf Hanru se vinnige herstel as ’n absolute wonderwerk omdat sy brein op verskeie plekke gebloei het.

Volgens Lizette Pienaar, Hanru se ma, sukkel Hanru nog met die akademiese werk omdat hy breinskade weens die bloeding gekry het. Dele van sy brein waar logiese denke plaasvind en die korttermynherinneringe geberg word, is beskadig.

Hanru is ná n jaar weer terug op die hokkieveld [Foto: Hanru Miracle, Facebook]

“Die brein sal mettertyd weer nuwe paaie vorm, maar dit sal ongeveer tien jaar neem om volledig te herstel,” sê Pienaar. “Hanru neem nou ekstra wiskundeklasse en doen ekstra wiskunde-oefeninge om die logiese deel van sy brein te stimuleer.”

Afgesien van die akademie wat vir Hanru effens opdraande gee, is hy perdfris en gesond.

Voordat hy in die hospitaal opgeneem is, het Hanru kranig krieket en hokkie beoefen en ook graag perdgery. Hy is baie lief vir sport en het vanjaar weer begin hokkie speel en draf tans vir die Tshwane Titans-hokkieklub uit.

“Die dokters het aanvanklik gesê Hanru sal dit nie eens op ’n fiets kan waag nie, wat nog te sê van hokkie speel. Hy het egter so goed herstel dat hy teen einde verlede jaar sy hokkiestok weer uitgehaal en begin speel het,” vertel Lizette.

Die dokters het vanjaar vir Hanru die groen lig gegee om hokkie te speel, mits hy dit met ’n skrumpet doen. Hy mag egter nooit weer krieket speel of perdry nie omdat die risiko om ’n kopbesering op te doen, groter is.

Hanru het aan Maroela Media vertel hy is verheug om terug op die hokkieveld te wees. Hy voel ook glad nie meer siek nie.

“Ek voel soos ek gevoel het voordat ek in die hospitaal opgeneem is. Só asof ek nooit in die hospitaal was nie,” vertel Hanru.

Hanru het verlede jaar sy hoërskoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunskool afgeskop en is vanjaar in gr. 9. Dokters het Hanru verlede jaar aangeraai om eerder nie skool toe te gaan nie, maar hy het deurgedruk en sy gr. 8-jaar voltooi.

“Alle eer aan God. Dis uit geloof dat Hanru vandag weer soos enige ander seun skool kan gaan en sport beoefen,” sê Lizette.

Volgens Lizette het die Here vir haar drie beloftes gegee toe Hanru in die hospitaal opgeneem is, en al drie is bewaarheid. “God het beloof dat al die hospitaalrekeninge betaal sal word, dat Hanru met ’n glimlag uit die hospitaal sal stap en dat elke dokter wat vir Hanru behandel, met die hand uitgesoek sal word. Al drie beloftes het waar geword.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louise ·

Dis wonderlike goeie nuus. God het groot planne met hierdie jong man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.