Hanru wakker ná gevaarlike gewas verwyder is

Hanru Pienaar (Foto: Verskaf)

“Ek is so dankbaar. Prys en loof God vir sy genesende hand.”

Só vertel ʼn verligte Lizette Pienaar nadat haar tienerseun, Hanru Pienaar (13), Maandag wakker geword en met haar gesels het ná hy ʼn week lank onder verdowing was. ʼn Gevaarlike gewas langs sy regternier is Sondag suksesvol verwyder.

Soos vroeër berig, is Hanru verlede Sondag in die Netcare Waterfall City-hospitaal in Johannesburg opgeneem, nadat hy erge hoofpyne begin kry en onophoudelik opgegooi het.

Twee dae later het die dokters vasgestel dat Hanru ʼn gewas langs sy regternier het wat moontlik sy bloeddruk erg verhoog en bloeding op sy brein veroorsaak het.

Hanru is Maandagmiddag onder verdowing uitgebring en van die ventilator afgehaal. Lizette vertel sy was oorstelp van vreugde om weer in haar seun se oë te kan kyk en met hom te praat.

“Hy praat van gister af met my, maar net in kort sinnetjies. Hy is nie deurmekaar nie, en weet wat om hom aangaan,” vertel Lizette.

“Hy het in ʼn baie sagte stem vir my gevra waar sy ouboet, Lian van Deventer (19), is. Hy het ook vir my gesê dat hy baie honger is, wat volgens die dokter ʼn goeie teken is.”

Die hospitaalpersoneel het Lizette aangeraai om hom nie te veel vrae te vra nie; anders sal sy brein te aktief wees.

Hanru in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Die neurochirurg het met Lizette gepraat en gesê hy is tevrede met Hanru se vordering en dat hulle gedurende die week weer ʼn breinskandering sal moet doen om seker te maak dat Hanru se breinfunksies normaal is.

Die dokters gaan ook moontlik vanoggend (Dinsdag) die dreineringspype uit sy brein verwyder.

“Hanru haal al self asem en kan sy oë rondbeweeg. Die dokter was bekommerd dat hy waansinnig sou wees, maar dit is nie die geval nie.”

Hanru het verlede Dinsdag twee breinoperasies ondergaan om die drukking en bloeding op sy brein te verlig. Hy het dieselfde dag boonop ʼn beroerte gekry wat die linkerkant van sy liggaam verlam het.

Lizette sê daar is steeds geen beweging in sy linkerarm nie, en die dokters sal so gou moontlik met rehabilitasie begin.

Vriende en familie het intussen fondsinsamelinginisiatiewe vir Hanru se mediese uitgawes van stapel gestuur, omdat die gesin nie oor ʼn mediese fonds beskik nie. Lizette het haar vaste inkomste in Maart verlede jaar verloor weens die Covid-19-inperking en kon nie meer haar mediese fonds bekostig nie. Sy en haar twee seuns woon by haar suster, Juanita Pienaar, aangesien sy nie meer haar woning se huur kon bekostig nie.

Die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies het ook intussen betrokke geraak en help om geld in te samel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Genis ·

Mag die Heer se wil geskied, en dat hy volkome herstel… Sterkte aan die gesin en vriende…

Ietsanders ·

Dis nie lekker om jou kind so te sien, met pype en monitors nie. Sterkte vir almal…

Sanet ·

Baie sterkte vir Lizette, bid vir Hanru op sy herstel pad. Niemand wat betrokke is by sulke omstandighede is ooit weer dieselfde nie. Hou vas aan julle geloof in ons Hemelse Vader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.