Harde werk betaal in Deacon-moorde

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

“Ná ure se harde werk, is dit bevredigend om te sien dat geregtigheid gaan geskied.”

Oudkol. Sakkie Louwrens, stigter van Bosveld-misdaadondersoeke (BMO), sê hy is verheug oor die vonnis wat Dinsdag vir Lazarus Mahlo (44) opgelê is vir die moorde op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79).

Mahlo het ’n pleitooreenkoms met die staat gesluit en is ingevolge die ooreenkoms tot 22 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Volgens die ooreenkoms gaan hy as staatsgetuie teen die ander twee beskuldigdes, Sophie Mmako en Casper Mudau, getuig.

“Die pleitooreenkoms is ʼn stap in die regte rigting. Ons glo dit is nou net ʼn kwessie van tyd voor die ander twee ook gevonnis word,” het Louwrens aan Maroela Media gesê.

Louwrens en die BMO-span was betrokke by die aanvanklik ondersoek van die saak asook die inhegtenisneming van die verdagtes. Hulle werk nou saam met die polisie in Limpopo.

Die verdagtes het ná die moorde in die Deacon-vrouens se Honda-sportnutsvoertuig laat spaander, met die liggame van die oorledenes nog in die voertuig.

Die polisie het die verdagtes by die Ga Maja-aansluiting op die R37-pad – naby Polokwane – voorgekeer, waarna ʼn jaagtog gevolg het. Die verdagtes het tydens die jaagtog langs die pad stilgehou, uit die motor gespring en gevlug.

Sophie Mmako in die hooggeregshof in Polokwane (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die gesteelde voertuig se opsporingstelsel het die polisie op die verdagtes se spoor geplaas, sê Louwrens aan Maroela Media.

“ʼn Selfoon is binne die motor gevind wat die polisie toe na ʼn nabygeleë nedersetting gelei het, waar Owen glo weggekruip het. Hy was egter nie daar nie en volgens inligting het hy na ʼn nedersetting in Naboomspruit gevlug. Hy is egter ingelig dat die polisie op sy spoor is, en hy het toe na Zimbabwe gevlug, waar hy glo nog steeds is.”

Volgens Louwrens het hulle ʼn ooreenkoms met die Zimbabwiese owerhede om hulle op hoogte te hou indien hy weer sy voete in Suid-Afrika sit.

“Sodra hy ʼn tree oor die grens gee, sal ons hom vang.”

Mahlo is kort na die moorde in Tembisa, Gauteng, vasgetrek en Mudau in ʼn nedersetting in Naboomspruit.

Mahlo het net ná sy inhegtenisneming skuld beken en ook met die hele sak patats vorendag gekom, waarna Mmako ook in hegtenis geneem.

Van links in die beskuldigdebank: Lazarus Mahlo en Casper Mudau (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Ons het Mmako met die aanvanklike ondersoek ondervra, maar sy het beweer dat sy niks weet nie. Sy het ook lang trane tydens die Deacon-vrouens se begrafnis gehuil.”

Lizette word onthou as ʼn groot sakevrou in Polokwane en was die eienaar van die Ocean Basket-restaurante in die Mall of the North- en Savannah-winkelsentrum.

Mmako was langer as 20 jaar ’n huiswerker vir Lizette en Hettie en word nou as die meesterbrein van hul moorde aangekla.

Volgens Mahlo se pleitooreenkoms het Mmako die rooftog op die Deacon-vrouens op 10 September by hul huis in Welgelegen, Polokwane, haarfyn beplan. Sy was glo ongelukkig omdat hulle haar glo nie genoeg betaal nie.

Sy het Mahlo ingespan om met die rooftog te help. Mahlo en Mmako was in daardie stadium in ’n verhouding.

Mmako het een van Mmako se huurders, Owen, ’n Zimbabwiër wie se van nie bekend is nie, en Mudau ook ingespan om by die rooftog betrokke te raak.

Die rooftog het egter skeef geloop, wat die lewe van Lizette en Hettie gekos het. Lizette is ’n onbekende aantal kere met ’n mes gesteek en Hettie is verwurg.

Die saak teen ’n derde verdagte, Advanced Hamid, is Maandag laat vaar omdat hy nie met die misdaad verbind kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Althes ·

Mmako ek het geen simpatie vir jou nie. Indien jy ontevrede was dat jy as huiswerker te min betaal is, sou jy nie 20 jaar by die Deacons gewerk het nie.
Jou gierigheid het twee onskuldige mense se lewens gekos.
Dis waarom ons al tien jaar ons eie huiswerk en tuinwerk doen.
Julle is nie te vertroue nie, en byt die hand wat jul voed.

Anthony ·

Ek stem 100% saam. Hou hulle so ver as moontlik uit jou huis & jou lewe

gpsa ·

Ons werk ook self in huis en tuin. Hoekom vir hulle betaal as hierdie voorvalle so gereeld voorkom?

Anthony ·

“Sodra hy ʼn tree oor die grens gee, sal ons hom vang.”…….ek wonder

Kobus ·

Het nuus vir die ondersoekspan. Hy is reeds terug in SA. Dink hulle vir een oomblik dat ‘n krimineel deur die grenspos sal inkom terwyl duisende Zimbawiers deur die Limpopo stap en in ‘n Taxi wat by die vulstasie wag klim om terug te keer vir die volgende moord? Skrik wakker

Jacobus ·

Die enigste suksesvolle sake wat afgehandel word is waar privaat veiligheids dienste, Afriforum en Solidariteit betrokke is. SAPS is USELESS VERBY!!!!!

Carel ·

Lyk my huis-& tuin hulp het die Afrikaanse spreekwoord op sy kop gekeer??
“Na aan jou goed, ver van jou skade”

Deesdae klink dit eerder na . .
“Na aan jou hulp, bitter naby aan jou skade/dood”

Dan wonder hulle, waarom niemand hulle indiens wil neem nie?

Niklaas ·

Die gierige Sophie Mmako is beslis een gevaarlike aktrise wat bitterlik tjank by die begrafnisse van haar twee slagoffers wat haar 20 jaar in diens laat werk het. Geen gevoel het sy gehad vir haar twee weldoeners. So, ek het nog minder simpatie met haar lot. Hoop sy kry een lang gepaste straf agter tralies.

Groen-oog ·

Ek en my man doen ook self als. Van huis tot tuin en bou. Huur iemand dan huur jy dalk jou moordenaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.