Harde woorde val oor adjunkpresident se siektetoestand

Adjunkpres. David Mabuza (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Parlementslede van die ANC en die DA het mekaar Donderdagoggend tydens ’n vergadering van die Nasionale Vergadering se programkomitee behoorlik in die hare gevlieg oor adjunkpresident David Mabuza se gesondheidstoestand.

Die senior ANC-LP en voormalige Johannesburgse burgemeester Parks Tau en die DA se adjunkhoofsweep, Jacques Julius, het gebots oor Mabuza se gereelde afwesigheid uit die parlement om ongespesifiseerde gesondheidsredes.

Julius wou tydens die vergadering hê die speaker van die Nasionale Vergadering moet uitvind wat nou eintlik fout is met Mabuza, wat nogmaals Donderdag vraetyd in die parlement misgeloop het op doktersaanbeveling.

Hy het reeds tevore ook vraesessies in sowel die Nasionale Vergadering as die Nasionale Raad van Provinsies misgeloop om soortgelyke redes. Mabuza is glo jare gelede in Mpumalanga vergiftig en is al dikwels daarvoor behandel, onder meer in Rusland.

Die DA het die afgelope paar dae tot die aanval oorgegaan en gesê dit is nodig om vas te stel dat Mabuza nie net afwesig is om verantwoordbaarheid te ontduik nie. Julius se vraag is dus nie goed ontvang in ANC-geledere nie, en Tau is ingestuur om hom te antwoord.

Tau het eerstens aangevoer dat Julius onsensitief is om die kwessie hoegenaamd te opper, veral in ’n tyd dat soveel Suid-Afrikaners, insluitend parlementslede, sterf om veral Covid-19-verwante redes.

Tau het glad nie laat blyk wat met Mabuza skort nie.

Toe het hy gesê dat Mabuza heeltemal gereed was om Donderdag se vrae te beantwoord, maar dat sy mediese span hom geadviseer het om dit nie te doen nie.

“Sou die agbare Julius wou hê dat die adjunkpresident sy mediese span verontagsaam? Die adjunkpresident is nie bedlêend nie. Hy praat gemaklik en beweeg rond. Hy is besig om met die speaker ooreen te kom vir ’n nuwe datum vir vraetyd – hy wil nie vrae ontduik nie,” het Tau gesê.

Die DA-hoofsweep, Natasha Mazzone, het Julius ondersteun, en uitgewys dat Mabuza baie take het. Hy is byvoorbeeld hoof van regeringsake, en hy moet sorg dat ministers betyds antwoorde verskaf op parlementêre vrae. As hy dus nie sy taak kan uitvoer nie, moet iemand vir hom instaan.

Die adjunkspeaker, Lechesa Tsenoli, het die DA egter gewaarsku dat hul ingesteldheid onbedoeld onsensitief mag oorkom – en steeds weet niemand wat presies vir Mabuza makeer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Miskruier ·

Zuma is mos ook vir vergiftiging in Rusland behandel?? Sy vrou was ook in die prentjie.

Jacobus ·

Solank hy sy stem reg uitbring gee die top kaders nie om nie.

Hercules ·

geen integriteit of gewete vir die land en die mense wat hy verteenwoordig as adjunk nie! maar net nog ‘n nar in die grootste sirkus met die bes betaalde lakeie in die wéreld!

Fedup ·

Yeah i am sick as well.
Sick and tired because of this circus.

Prikkie ·

Toe ek op skool moes wiskunde toets skryf, was ek ook altyd siek.

My ma het my by meer as een geleentheid dokter toe geneem, maar hy kon ook nooit uitvind wat was fout met my nie.

Moedeloos ·

Ja nee daai pyn op die maag en naarheid en koppyn kan jy vir niemand verduidelik nie. Dit is net daar en jy voel siek man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.