Harde woorde val tussen tesourie en parlementslede

Dondo Mogajane, die direkteur-generaal van die nasionale tesourie (Foto: Treasury.gov.za)

Ongekende harde woorde het Vrydag geval tussen Dondo Mogajane, die direkteur-generaal van die nasionale tesourie, en parlementslede, wat waarnemers se vrese oor die isolasie van die departement van finansies versterk het.

Die geleentheid was die nasionale tesourie se terugvoer oor die eerste twee dae se insette deur die burgerlike samelewing oor die nuwe nasionale begroting wat Tito Mboweni, die minister van finansies, verlede week ingedien het.

‘n Groeiende hoeveelheid gesoute politieke waarnemers vermoed ‘n verwydering kan intree tussen die nasionale tesourie, met Mboweni as politieke hoof aan die een kant, en groot hoeveelhede linkse ANC-ondersteuners sowel as mindere staatsamptenare aan die ander kant.

‘n Groot deel van hierdie kommer het te doen met die uitgesprokenheid van Mboweni en sommige staatsamptenare. Dit sluit Mogajane en die goewerneur van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, in. Hulle ondersteun ‘n streng en behoudende monetêre en fiskale beleid gemik op ekonomiese groei, wat kontrasteer met die meer populistiese, rykdomverdelende en linkse voorkeure van hul teenstanders.

Hiervan was Vrydag se veldslag tussen die nasionale tesourie aan die een kant, en sommige burgerlike organisasies ondersteun deur links-neigende parlementslede aan die ander kant, ‘n definitiewe voorbeeld.

Gewoonlik tel staatsamptenare hul woorde tydens parlementêre terugvoer, maar nie Mogajane as direkteur-generaal van die nasionale tesourie nie. Hy het ‘n beroep gedoen op die burgerlike samelewing om parlementêre insette te lewer wat “op feite gegrond is; nie valse insette met ‘n politieke ondertoon wat aangepas is om eiebelang te dien nie”.

Hy het spesifiek die insette van ‘n groep linkse ekonome en die Budget Justice Coalition (BJC) afgeskiet as “misleidend, gemik op media-sensasie” en as “ongegronde aanvalle”.

Mogajane het ook uitgevaar teen ‘n stelling van die BJC dat dit ‘n versaking van LP’s se grondwetlike plig sal wees om vir die begroting te stem en deur ‘n stelling van die ekonome dat dit verraad teen pres. Cyril Ramaphosa sal wees om die nuwe begroting te ondersteun. In die verlede is sulke stellings grootliks deur staatsamptenare geïgnoreer.

Mogajane het die parlement gemaan om nie ‘n forum vir vals inligting te word nie. Dit het parlementslede soos Yunus Carrim (ANC) en Floyd Shivambu (EFF) rooi laat sien, en hulle het Mogajane goed laat verstaan dat hulle die verskil tussen feit en valsheid goed onder die knie het. Mogajane is ook vermaan om nie lede van die burgerlike samelewing met sy stellings te intimideer nie.

In reaksie het diegene wat die burgerlike samelewing se insette gelewer het, hulle bloot ingehou in die wete dat die politici se insette die tesourie reeds beter gerysmier het as wat hulle kon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lorna ·

Haai ek ken die man mos
My werkskollege se man
Hello dudu
Hehehe

marius ·

Die spaarvarkie se snoet is al wat oor is , daar is geen ander rede vir die onmin nie ….

Harry ·

Hierdie is n goeie teken met groot waarskuwing. Dis tyd dat politici in SA uitgewys word vir die geld wolwe wat hulle is.

Kokkie ·

Daar is nog klein stukkies vleis oor aan die staatskas -geraamte. Die aasvoëls wil dit ook hê. Daar mag niks oorbly nie, net kaal bene vir die hiënas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.