Harmony Gold en vakbonde teken loonooreenkoms

Argieffoto

Harmony Gold het ʼn loonooreenkoms met drie vakbonde onderteken, het die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Die National Union of Mineworkers (Num), Solidariteit en UASA het die ooreenkoms met Harmony Gold aangegaan.

Volgens die ooreenkoms sal werknemers op die posvlakke van myners, ambagsmanne en amptenare ʼn verhoging van 6,3% vir 2018 en 6,3% of VPI (wat ook al die grootste is) vir die daaropvolgende twee jaar ontvang. Die werknemers in kategorie 4-8 ontvang onderskeidelik ʼn verhoging van R700, R750 en R825 oor die volgende drie jaar volgens die ooreenkoms. Die behuisingstoelaag word ook met R100 per jaar verhoog (van R2 100 per maand) vir die volgende drie jaar (tot R2 400 per maand).

Die verhogings tree terugwerkend vanaf 1 Julie vanjaar in werking en is geldig tot 30 Junie 2021.

Harmony het ongeveer 31 000 personeellede in diens in die onderhandelingseenheid, het MRSA bygevoeg. Loongesprekke tussen werkgewers by Sibanye-Stillwater en Village Main Reef en werknemers, wat deur die NUM, Solidariteit en Amcu verteenwoordig word, duur voort onder die KVBA.

Solidariteit het in ʼn verklaring gesê hy hoop dat Sibanye-Stillwater by AngloGold Ashanti en Harmony sal leer dat loonskikkings bereik word as ʼn maatskappy in goedertrou onderhandel. Sibanye het vandag ʼn “hersiene aanbod” van 5,2% aan myners, ambagsmanne en amptenare gemaak, wat presies dieselfde aanbod is as wat twee weke gelede gemaak was. Sibanye het ook heelwat ander toegewings waarop ooreengekom was, teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.