Harmony-mynwerker dood; produksie tydelik gestaak

Argieffoto

Argieffoto

Bedrywighede by Harmony se Unisel-myn is sedert Saterdag opgeskort ná ’n ongeluk waarin ʼn mynwerker dood is.

Marian van der Walt, woordvoerder van die myn, het aan Maroela Media gesê dat die werknemer met instandhoudingswerk besig was toe die ongeluk gebeur het. Van der Walt kon geen besonderhede oor die ongeluk verskaf nie.

“Veiligheid is vir Harmony ʼn topprioriteit en daar is dadelik ʼn ondersoek van stapel gestuur om vas te stel wat presies gebeur het,” het Van der Walt gesê. ʼn Artikel 54-sertifikaat is uitgereik om produksie by die myn tydelik te staak hangende die ondersoek. “Die myn sal nou ʼn voorlegging aan die departement van minerale hulpbronne doen rakende die voorval, waarna die departement die sertifikaat sal opskort indien hy tevrede is dat die skag na wense beveilig is en die nodige rehabilitasie in die gebied gedoen is.”

Van der Walt het verder gesê die veiligheid van die bepaalde skag is uiters goed en dat daar voor Saterdag se voorval 1,2 miljoen skofte sonder noodlottige ongelukke verloop het. “Dit is daarom altyd vir ons ʼn baie groot teleurstelling en tragedie wanneer so iets gebeur,” het Van der Walt gesê.

Harmony se uitvoerende hoof, Graham Briggs, het namens die myn se raad en personeel sy medelye aan die vriende en familie van die oorledene uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Mynongelukke word nie ligtelik opgeneem. Daar word ter plaatse ‘n deeglike ondersoek gedoen om vas te stel presies wat gebeur het en of daar by regulasies gehou is. ‘n Persoon kan maklik in die hof ‘n draai gaan maak as hy verantwoordelik is vir besering of dood van ‘n ander persoon of selfs skade aan toerusting. ‘n Plan (volgens skaal) word geteken deur ‘n bevoegde mynopmeter met die nodige aansigte van die ongeluk wat dan deur die hoofopmeter gesertifiseer word deur dit te onderteken waarna dit ‘n amptelike dokument word. Hierdie dokument (plan) word dan deur die mynbestuur en die inspekteur van myne (wat die ongelukstoneel besoek het) gebruik vir verdere stappe en besluitneming. Hierna word ALLE dokumente geliasseer en in ‘n kluis gebêre. NIKS word vernietig, m.a.w. verjaring (vernietiging) vind nie plaas. Om werksaamhede in enige gebied van ‘n myn te stop kan miljoene rande se verlies tot gevolg hê. Hierdie verliese word egter nooit opgeweeg teenoor die werkers se veiligheid wat, soos in die berig gemeld, topprioriteit geniet.
Voorgaande is net ‘n kort weergawe en ek sal waardeer indien iemand dit wil aanpas.
Onwillekeurig dink ek ook aan noodlottige motorongelukke en die gepaardgaande verslaggewing daarvan. Kan iemand hiermee help?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.