Harmony, reddingspan geloof vir flink en dapper optrede

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Maandag die bestuur van Harmony se Kusasalethu-goudmyn in Carletonville en die reddingspan van Mines Rescue Services geloof vir hul flink en dapper optrede nadat 487 mynwerkers Sondagoggend weens ʼn brand ondergronds vasgekeer was.

Volgens Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid- en veiligheid, het die feit dat Harmony ʼn behoorlike reddingsplan het, verhoed dat die brand enige lewensverlies of ernstige beserings tot gevolg gehad het. “Die suksesvolle herwinningsoperasie dien as voorbeeld vir die res van die bedryf van hoe daar tydens noodsituasies opgetree behoort te word. Die voorval beklemtoon ook weereens die belangrikheid van mynveiligheid,” het Mardon gesê. Hy het bygevoeg dat Solidariteit dankbaar is dat die voorval nie tot ernstige beserings of lewensverlies gelei het nie.

Mardon het in die lig van die suksesvolle herwinningsoperasie gesê dat mynveiligheid die afgelope 12 jaar aansienlik verbeter het. Hy meen dit kan toegeskryf word aan die toewyding van werkgewers, georganiseerde arbeid en die regering wat sedert 2003 kragte saamgesnoer het om die gehalte van beroepsgesondheid en -veiligheid te verbeter.

“Hoewel wesenlike vooruitgang ten opsigte van gesondheid en veiligheid in Suid-Afrikaanse myne gemaak is, is daar nog groot ruimte vir verbetering. Mynbou is en bly ʼn gevaarlike bedryf en ervaar talle uitdagings wat die hoof gebied moet word. Die uitdagings sluit, onder meer, onwettige mynbou en die onvoldoende opleiding van gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers in,” het hy bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor Harmony op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.