Harrismith-brand: Vyf sterf; hulpfonds gestig

Foto: @oaklandsZA op Twitter.

Foto: @oaklandsZA op Twitter.

Vyf mense, insluitend ʼn pa en seun, is reeds dood in die verwoestende veldbrande wat in Harrismith in die Vrystaat woed.

Ds. Johannes de Bruyn, AfriForum se takvoorsitter in Harrismith, het gesê ʼn brand het Donderdag naby Warden begin en deur Harrismith beweeg.

Volgens De Bruyn is Johann Mocke, sy seun Zander en ʼn plaaswerker gistermiddag dood nadat hulle voertuig glo vasgeval het toe hulle op pad was om ʼn brand te probeer blus. Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê die voorval het op die plaas Mount Everest gebeur.

De Bruyn het gesê die polisie het intussen aan hom bevestig dat nog twee plaaswerkers in die brande omgekom het. “Ons gemeenskap is geruk deur die lewensverliese asook verlies van eiendom en plase wat tot op die grond afgebrand het.”

Volgens De Bruyn is talle plase tot op die grond afgebrand terwyl baie boere se skure en store in die slag gebly het. “Boere het ook vee verloor. Daar is wel boere wat betyds hul vee kon skuif. Voer vir die vee is egter nou ʼn groot probleem.”

De Bruyn het gesê daar word steeds opnames gedoen op die skade te bepaal. “Ons weet die gebied wat geraak word is sowat 2 000 vierkante kilometer. Die groot brand by Harrismith is intussen onder beheer gebring maar daar woed nog plek-plek brande.”

AfriForum het intussen ’n noodfonds gestig om noodsaaklike ondersteuning te verleen aan Harrismith-inwoners en boere. AfriForum het R10 000 tot die hulpfonds geskenk, en ’n SMS-veldtog is geloods om die publiek aan te moedig om betrokke te raak.

Volgens CW Els, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Vrystaat, sal die ander AfriForum-takke in die provinsie ook genader word om Harrismith by te staan.

SMS “BRAND” na 38310 om R10 tot die hulpfonds te skenk. Skakel AfriForum by 012 644 3951 vir meer inligting en ander donasies. Enige persone wat wil help kan ook vir De Bruyn kontak by 084 554 9973.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.