Harrismith-inwoners wil hof toe oor riool, bloed in veld

Die rioolverwerkingsaanleg is volgens inwoners vir alle praktiese doeleindes nutteloos.

Inwoners van Harrismith in die Vrystaat gaan die Maluti-a-Phofung- plaaslike munisipaliteit nou in die hooggeregshof die stryd aansê omdat rioolvuil nou reeds maande lank uit dié dorp se grootste rioolverwerkingsaanleg loop.

Willem König, ʼn sakeman op die dorp en een van die direkteure van die Harrismith, Intabazwe & Tshiame-inwonersvereniging (HIT-vereniging), sê die probleem duur nou al maande lank. Verskeie pleidooie aan die munisipaliteit om behoorlike herstel- en instandhoudingswerk aan die aanleg te doen, het tot dusver op dowe ore geval.

König sê die aanleg is intussen van alle kabels gestroop. Dieselfde het met die transformator by die aanleg gebeur en die aanleg is in dié stadium vir alle praktiese doeleindes nutteloos.

“Ek kan die ekologiese ramp waarop hierdie [situasie] afstuur nie aan jou verduidelik nie. Niks word aan die probleem gedoen nie en die aanleg gaan al hoe meer agteruit.

“Hierdie is die hoofrioolverwerkingsaanleg en dit is heeltemal wanfunksioneel.”

Volgens König beland rioolvuil wat wél van kleiner stasies na die aanleg gepomp kan word in die veld omdat die pype hopeloos verstop word. Die rioolvuil wat dit wél tot in die aanleg maak, loop weer reg deur die aanleg uit tot aan die anderkant en beland in die Wilgerivier.

Dié water beland eindelik in die Vaaldam.

Bloed van ʼn abattoir wat ʼn klipgooi weg van die aanleg geleë is, beland ook in die veld. König het gesê dié slagpale doen alles wat van hom verwag word om verantwoordelik van die afval ontslae te raak, maar weens die wanfunksionele verwerkingsaanleg is daar weinig wat gedoen kan word.

Boosdoeners het die aanleg die afgelope paar maande byna heeltemal gestroop.

Die HIT-inwonersvereniging het Vrydag in ʼn prokureursbrief aan die munisipaliteit gesê ingevolge die Grondwet is hulle geregtig op ʼn gesonde omgewing en dat die staat moet verseker dat daar aan dié reg voldoen word. Hy moet inwoners ook teen enige skending van hulle regte beskerm en moet verseker die omgewing word nie skade berokken nie.

Inwoners sê die situasie op die dorp is onhoudbaar en dat die munisipaliteit versuim het om sy wetlike plig teenoor inwoners en belastingbetalers na te kom.

Die vereniging het die munisipaliteit gevolglik verlede Vrydag op terme geplaas en die plaaslike owerheid 48 uur gegee om iets aan die rampspoedige situasie by die rioolverwerkingsaanleg te doen. Hulle het onder meer geëis dat stappe gedoen word om die probleem by die rioolverwerkingsaanleg reg te stel en dat die omgewing gerehabiliteer word.

Volgens König het inwoners ná 96 uur steeds geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie en gaan hulle hul nou tot die hof wend.

“Ons gaan nie toelaat dat ons dorp ten gronde gaan nie.”

Die vereniging sê in die brief aan die munisipaliteit hy gaan strafregtelike klagte teen die betrokke individue wat hul plig versuim het aanhangig maak.

Maroela Media het die Maluti-a-Phofung-plaaslike munisipaliteit om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carel ·

Ja nee dit gaan orals so, ek wens ons kan ook uitvind wat langs die vaal rivier in Vereeniging gebeur, Drie Riviere Three Rivers Vereeniging gebied, ek dink hestel werk sloer al vir jare en die Kliprivier, Vaal Rivier en Suikerbos ly daaronder :(

Nie Verbaas ·

Nog n “trotse” voorbeeld van ANC se totale onbevoegdheid. Het hierdie mense geen skaamte nie of probeer hulle doelbewus terugkeer na die oertydperk toe?

Pieter ·

Maar hulle wil die land regeer hulle kan en sal nooit regkom nie.

Alexander ·

Die regering kon na 26 jaar nie daarin slaag om rioolplase te bestuur nie. Dit sal beter wees as hulle dit privatiseer.

Amatambo ·

Nooit gesien nie, Alexander – as dit geprivatiseer moet word, sal die huidige bestel mos geldelik daaronder ly as ‘n privaat maatskappy oorneem en die geld in hulle rekening inbetaal word….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.