Harrismith-plaasaanval: ‘Yster’-boervrou uit hospitaal ontslaan

Alison Oates sterk aan ná 'n wrede aanval op haar plaas Sondagmiddag. Foto: Facebook.

Alison Oates sterk aan ná ‘n wrede aanval op haar plaas Sondagmiddag. Foto: Facebook.

Alison Oates, die 58-jarige weduwee en boervrou van die Vrystaat wat Sondagmiddag op haar plaas naby Harrismith aangeval, gemartel en verkrag is, is Maandag uit die hospitaal ontslaan en sterk by familielede aan.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Komitee vir Wet en Orde, het saam met ʼn afvaardiging van VL se hoofbestuur Oates by haar skoonsuster gaan besoek, nadat sy uit die La Verna-hospitaal op Ladysmith ontslaan is. Oates is een van VL se uitvoerende bestuurslede.

“Sy het toestemming gegee dat haar naam genoem mag word en het ook gesê sy dra nie kwaad in haar rond ná die voorval nie,” het Esterhuyse Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Sy is baie sterk in hierdie stadium en is gretig om so gou moontlik terug te keer na haar plaas om aan te gaan met haar beesboerdery.”

Esterhuyse het Oates as ʼn ystervrou beskryf en gesê sy is baie sterk. Sy het twee dogters wat onderskeidelik in Bloemfontein en Johannesburg woon. Hy het gesê sy boer al jare lank, maar was nie seker hoe lank terug haar man oorlede is nie.

Maroela Media het vroeër berig Oates is Sondag omstreeks 17:00 aangeval nadat sy van ʼn vergadering in Bethlehem teruggekeer het.

Volgens sers. Mmako Mophiring, provinsiale polisiewoordvoerder, het twee onbekende mans haar by haar huis ingewag. Hulle het haar in haar huis ingedwing waar hulle haar met kledingstukke vasgebind het. Sy is onder meer met ʼn mes gesteek en met ʼn warm strykyster gebrand terwyl haar aanvallers op geld aangedring het. “Sy het vir hulle gesê sy het nie baie geld nie, net dit wat sy by haar gehad het. Die mans het haar glo ook verkrag voordat hulle met die vrou se wit Mahindra-bakkie gevlug het. Hulle het die geld wat sy by haar gehad het en ʼn selfoon gesteel,” het Mophiring gesê.

Oates kon haar ná die aanval loskry en het hulp by bure ontbied. Sy is deur Netcare 911 na die hospitaal op Ladysmith gehaas vir behandeling.

Sommige Maroela Media-lesers het in reaksie op die berig teen die slagoffer uitgevaar en gesê dat sy nie veiligheidsbewus was nie. Esterhuyse het hierop reageer en gesê dit is onsin. “Volgens my is daar voldoende veiligheid en is sy paraat. Sy is ook tans besig om kringtelevisiekameras by die huis aan te bring.”

Esterhuyse het bygevoeg dat VL se uitvoerende bestuur baie hartseer en geskok is oor die wrede aanval op Oates.

“Die wreedheid van hierdie aanval en die feit dat ʼn weerlose vrou so erg aangerand is, is uiters kommerwekkend en word in die sterkste moontlike terme veroordeel! Hierdie landbouer ondersteun die gemeenskap op verskeie maniere, en sy doen haar bes om armes op te hef. Sy het ʼn  baie belangrike rol vervul om die erge brande in die Harrismith-streek te help blus verlede jaar, terwyl sy die brandarm gemeenskappe wat alles verloor het, bygestaan het deur skenkings in te samel. Dit is baie moeilik om te verstaan hoekom iemand wat die gemeenskap so probeer ondersteun, so wreed aangeval sou word. Ons wens haar volkome herstel toe en sal alle moontlike steun aan haar bied,” het hy gesê.

Die Harrismith-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord, huisroof en verkragting. Mophiring het Dinsdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Oates se bakkie is egter intussen opgespoor. “Die bakkie is Maandag verlate in die Intabazwe- informele nedersetting opgespoor. Die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

anet ·

Alison, dit goeie nuus dat jy weer op en wakker is, en dat niks jou sal onderkry nie. Krag en sterkte vorentoe, en geniet jou boerdery. Ek dra jou daagliks op in gebed

Gerhard Bezuidenhout ·

Ek hoop dat hierdie ystervrou volkome sal herstel en al die vernederings sal kan verwerk. Dit wys jou egter weereens dat handuitreik na n sekere groep in ons land vir hulle niksseggend is. Mag die twee boewe wat haar so wreed aangerand het spoedig gevang word en dan saammet die wreedste ander boewe in dieselfde tronksel gegooi word.

Amanda ·

Mevrou, ek haal my hoed vir jou af. Jy is voorwaar ‘n ystervrou! Vir almal wat klippe gooi… dit kan met jou en my en jou vrou gebeur in die veiligste kompleks wat daar is! As ‘n skelm wil inkom, verkrag en moor, sal hulle dit doen, maak nie saak waar en hoe nie. Totdat die regering hulle oogklappe afhaal en die howe hulle werk begin doen (of die regering ophou inmeng in howe) en die strawwe erger gemaak word en toegepas word en parool nie aan misdadigers gegee word nie, sal ons land net verder in die afgrond in beweeg.

Paul ·

Amanda, jy fokus jou hoop op die regering. Waarom daar jou heil soek? Moet op prinse nie vertrou nie.

Genis ·

Alhoewel al haar liefdadigheid- en opheffingswerk daar onder die agtergeblewe gemeenskap prysenswaardig is, hoop ek dat sy haar eie veiligheid ook nou in gedagte sal hou op die moeisame pad na herstel. Alle voorspoed en sterkte aan haar.

M ·

Ons verstaan al die goeie werk wat sy doen en ons waardeer dit. Niemand sê ook dit is
haar skuld dat sy aangeval is nie. Vir my maak dit sin dat sy wil terug keer plaas toe. Dit is alreeds bewys sy is nie veilig daar nie, soos dit met al die plaas aanvalle bewys is. Ek verstaan ook dat dit haar blyplek, en inkomste is. Al die boere kan ook nie hulle plase verlaat nie. Ons sit met ‘n probleem, en ons moet ‘n oplossing vind. So mnr. Esterhuyse wie sekere van Maroela se kommentaar as onsin afmaak, hoe gaan ons dit verduidelik as dit weer sou gebeur? Ek stel dit dat die vrou dalk mooi moet gaan besin oor haar eie veiligheid en wat sy gaan doen om dit te verseker. Ek is self ‘n Beesboer en die dinge lê my baie na aan die hart. Maar ek kan nie terug staan en hoop sy gaan veilig wees nie. Die mense wat die dinge doen, het een doel. Hulle sien nie die goed raak wat sy doen en bedoel nie. Al die goeie dinge wat sy doen het haar ook nie gevrywaar van wat met haar gebeur het nie. Ek vra weer mevrou, gaan dink asb. mooi. Om vrou alleen op daai plaas te wees is dalk nie die beste oplossing nie.

marianne ·

Mevrou ek bid jou sterkte toe. Jammer of dis tragiese dat jy deur so iets moes deur gaan. Dit is net so erg vir mense om jou veiligheid te krit is eer. Sjoe ek Kannie glo dat enige regdenkende mens nog tyd vind om kritiek te kan lewer in n tyd soos die nie. Om Klippie na Iemand te kan gooi wat deur so n dramatiese en wrede onmenslike ervaring deur is verstom my. Die vrees en vernedering en pyn wat jy moes deur maak was vreeslik nou nog meer pyn ervaar van mense wat kit is eer is darem te erg. Ek kan dit nie glo nie, dat mense so weed en ongevoelig kan wees in hierdie tyd. ….Ek Wens jou n spoedige hers tel toe en ek bid dat God jou veilig Sal hou en jou kalmte en vrede Sal gee. Groete.

Peet J ·

Waarom moet die dame nou haar vryheid prys gee en gaan wegkruip terwille van haar toekomstige veiligheid?
Hierdie insident is die owerheid se probleem wat die kriminele toelaat om te breek en vat soos hulle lus het en sodra jy teenstribbel word jy vermink en gedood is dit hoe die nuwe Suid-Afrika in die toekoms gaan wees?

Theresa ·

Bravo Mev Oates! Mag jy ‘n suksesvolle en geseënde jaar verder beleef op jou plaas. Wat ‘n voorreg om nog te kan boer! As vrou teenoor vrou, wel die volgende: dit is ‘n goeie idee om tog maar ‘n goeie wapen by jou te dra (ek besef mens het nie altyd die kans om dit eerste te gebruik nie? – maar dalk wel). Klankverklikkers rondom jou tuiste en selfs ‘n ent van die huis af kan jou gou in kennis stel van dwalendes. Of (dis nou ‘n duur opsie) sit ogies oraloor wat jou op jou selfoon laat weet wanneer daar beweging is – ek kan nie wag om dit te koop nie. Jy is ‘n baie beter mens as ek om nie kwaad te voel teenoor hierdie aaklige wesens nie. Ek kan nie wag om te lees dat hul gevang is en agter tralies vir jare der jare moet sit nie.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Alison ek is so bly jy is weer op die been mag dit met jou goed gaan . En kry vir jou a R1 geweer en kwaai hone ons almal staan saam met jou sommer ook twee leeus dan sal niemand jou weer pla

pop ·

Eks bly die dame is so positief, maar ek sal in der ewigheid nie kan verstaan hoe mens nie kwaad en haatdraend kan wees na so ernstige aanslag op jou lewe nie. Ek is dan seker nie n goeie mens nie. Maar die warm woede in my hart wil nie bedaar nie.

Sonneblom ·

Nou dis ‘n regte boere tannie so na my hart. Die Vader dra mens deur moeilike tye. Ek sal ook soos die tannie voel oor my plaas. Hoekom moet ons gedwing word om te trek? Hoekom moet ons elektriese heinings op sit op ‘n plek wat veronderstel is om oop en vry te wees? Dis hartseer. Sterkte tannie. My hart klop sommer warem as ek hoor daar is nog mense soos tannie wat nie opgee nie. Regte Boere tannie

Peet J ·

Haai het julle gehoor die DA en die FVPlus het die aanval deur die kriminele op die dame wat sondagmiddag plaasgevind het naby Harrismith, ten sterkste veroordeel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.