Die man wat Vrydagaand op ʼn beesplaas buite Harrismith in die Vrystaat vermoor is, het sedert sy geboorte op die plaas gebly en agt van sy kinders daar grootgemaak.
Robert Rhadebe (67) en sy vrou, Martha, is die aand deur twee verdagtes in hul huis oorval en vasgebind. Albei is met ʼn mes aangeval en gesteek en Robert het aan sy beserings beswyk.
Danie Badenhorst, eienaar van die plaas, het aan Maroela Media gesê Robert was sy regterhand op die plaas wat elke aspek van die boerdery bestuur het. “Hy was nie net ʼn bestuurder nie, hy was my vriend. Ons was redelik na aan mekaar,” het hy gesê.
Robert is op die plaas gebore en hy en Badenhorst het mekaar leer ken toe Badenhorst die grond in 1976 gekoop het. “Hy het sy agt kinders hier grootgemaak en hulle is almal baie suksesvol en gekwalifiseerd. Een is in IT, ʼn ander in verpleegkunde, nog een in die veiligheidsindustrie en hulle is almal hoogs suksesvol,” het hy gesê.
Badenhorst het gesê hy het self Saterdagoggend Robert se liggaam ontdek. “Die huurders wat op die plaas bly het Martha omstreeks 07:15 buite hul huis sien sit. Sy was nog steeds vasgemaak en kon net daarin slaag om tot buite die huis te kruip. Hulle het my dadelik gebel en ek het onmiddellik [van Harrismith af] plaas toe gery.”
Hy het gesê hy het Robert se liggaam in een van die kamers aangetref onder ʼn klomp klere en linne. “Sy gesig was erg geskend. Ek het nie verder na die wonde op sy liggaam gekyk nie, maar ek weet hy is met ʼn mes aangeval,” het hy gesê. Martha het ook steekwonde aan haar arms en bolyf opgedoen en is na ʼn plaaslike hospitaal gehaas. Sy is sedertdien weer ontslaan en sterk tuis aan.
“Ons het reeds gereël dat ʼn sielkundige met haar kom praat. Sy is natuurlik baie getraumatiseerd,” het Badenhorst gesê. Robert se begrafnis sal na verwagting Saterdag plaasvind.
Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het gesê sake van huisbraak en moord word ondersoek.
Dit is baie hartseer vir my Danie,dat jy jou vriend en Bestuurder op so wrede mannier moes verloor. Stertke aan Martha, en kinders, asook aan Danie en sy gesin
Sterkte aan julle almal. Veral arme Martha. Foeitog.
Waarom is die mense in ons land so wreed??????
is dit ook nou n aanval teen witmense?
Nee Darren,dit het niks met witmense te doen nie .Dit is weer n plaas aanval wat sekere mense nie van wil weet nie.
Baie sterkte aan almal. Hartseer dat mens nêrens meer veilig is nie, veral nie eers in jou eie huis nie.