Harrismith-polisiestasie op die randjie van ineenstorting

(Foto: SAPD/Facebook)

Tydens ʼn toesigbesoek van die Demokratiese Alliansie (DA) aan die Harrismith-polisiestasie in die Vrystaat is bevind dat die stasie feitlik lamgelê word deur ʼn kritieke mannekragtekort.

Volgens Leona Kleynhans, die DA se woordvoerder vir polisie in die Vrystaatse wetgewer, is daar tydens die besoek Woensdag bevind dat daar ʼn vakaturekoers van meer as 30% is, met slegs een aktiewe reservis.

“Die 12 speurders by die stasie het ongeveer 800 sake elk, terwyl baie van die mees ervare beamptes vroeë aftrede geneem het weens die druk. Die polisie se bevolkingsverhouding is ʼn verbysterende 3 500 inwoners tot een Vispol-beampte,” sê Kleynhans.

Volgens Kleynhans moet die stasie ʼn minimum van 20 sigbare polisiëringslede aan diens hê vir elke skof, maar kan slegs 12 bymekaarmaak, indien niemand siek of met verlof is nie.

“Die twee satellietstasies in Tshiame en Intabazwe is gesluit omdat daar eenvoudig nie genoeg beamptes is om hierdie stasies te beman nie; inwoners van hierdie gebiede is uiters kwesbaar.”

Kleynhans sê die laaste keer dat reserviste in die Vrystaat opgelei is, was in 2019 toe 200 opgelei is. Nie een hiervan is aan Harrismith toegeken nie.

Verder is daar ook ʼn tekort aan voertuie vir patrollies.

“Slegs vyf voertuie kan hierdie uitgestrekte gebied, waaronder 420 plase, en die N3-roete op ʼn skof patrolleer. Ander voertuie staan ledig weens ʼn gebrek aan gemagtigde bestuurders.”

Om sake nog erger te maak, is die feit dat die stasie geen kragopwekker het nie, en dus in algehele duisternis gelaat word tydens beurtkrag, sê Kleynhans.

“Daaglikse gevalle word aangemeld van voertuie in die erf waar batterye en ander items gesteel is. Misdadigers breek ook gereeld by die stasie in en het al die verwarmers, en enige los items wat hulle kan kry, gesteel.”

Die DA-lede het tydens hul besoek ook bevind dat die radio in die beheerkamer, waar patrollievoertuie aanmeld, stukkend is.

Daar is ook bevind dat die waarnemende stasiebevelvoerder binnekort met pensioen gaan, terwyl die ondersteuningsbevelvoerder ook waarneem.

“Die DA sal volgende week tydens sy inligtingsessie in die Nasionale Raad van Provinsies (NCOP) vrae aan min. Bheki Cele stel oor die kritieke toestand van polisiëring in Harrismith, wat ʼn bevolking van 180 000 bedien. Vrae sal ook aan die Provinsiale Polisiekommissaris in die Portefeuljekomitee van die Vrystaatse Wetgewer gestel word.

“Hierdie ondraaglike situasie is ʼn verraad van ons toegewyde polisiebeamptes en -personeel, wat die veiligheid van inwoners in die gedrang bring en dit kan nie toegelaat word om voort te gaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Mieke ·

Ai tog…. Een van die destydse mooiste dorpies in Noord-oos Vrystaat. Bykans niks het oorgebly van die dorp self. En die polisie se teenwoordigheid gaan hand in hand met die slegte beheer en instandhouding van enigiets wat nog gewerk het. Dankie ANC.

Kokerboom ·

Gaan haal die vervloekte grootmond Minister en sê hy moet sy werk doen. Kry ook wegkruip Kommissaris voor stok!

Pietertjie ·

Die polisie beteken in elk geval niks. Die stasie kan maar teen die drakensberg afstort.

Samuel ·

Enigiets in beheer van die ANC is eenvoudig ‘n gemors en Cele gaan niks hieromtrent doen nie.

Blue Butterfly ·

Doen ondersoek by ALLE polisiestasies landwyd. Harrismith is definitief nie die uitsondering nie.

koos ·

Hoedman op sy beste – missing in action waar sy “wysheid” benodig word, terwyl die kriminele op sy battery in Harrismith p!p!. Soos alles on die Godsverlate land, Another National Crises.

Marshall ·

Die hele staat gaan agteruit weens ‘n algemene gebrek aan intelligensie. Die situasie was totaal voorspelbaar vir diegene wat die akademiese literatuur in die gebied ken. Die relevante vraag is wat is die strategie vorentoe? Die enigste sinvolle strategie is eerstens om te besef dat die eenheidstaat van De Klerk IN DUIE GAAN STORT, en tweedens dat afstigting van die minderhede die enigste lewensvatbare pad vorentoe is. Ons het vir De Klerk gewaarsku, maar hy het sy Globalistiese-base gedien.

Shakespeare ·

90% vd kader SAP het alreeds, jare gelede, inmekaar gestort. Choose an idiot to run an institution and you produce idiots.

Papsak ·

Onbevoeg vir die werk maar ou hoed sal dit nooit erken nie hy praat alles mos goed terwyl alles onder hulle hande tot niet gaan daai polisiestasie n pragstuk van n voorbeeld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.