Harrismith se tydelike kragoplossing ontplof

Die krag in Harrismith is sedert verlede Maandag af nadat die hoofsubstasie op die dorp beskadig is. (Foto: Google)

Harrismith se inwoners het Maandag trane van blydskap gestort toe hul kragtoevoer danksy  ʼn tydelike kragoplossing ná ʼn week lange donkerte herstel is. Die blydskap was egter van korte duur toe die dorp se substasie enkele ure later ontplof het.

Eleanor Quinta, die DA se raadslid in Harrismith, sê sy vermoed die las van die tydelike verbinding op die verouderde substasie het moontlik tot die reuseontploffing gelei.

Dele van Harrismith se hoofsubstasie is verlede week vermoedelik deur vandale beskadig en groot dele van die dorp was sedert verlede Maandag sonder krag. Die munisipale bestuurder het met die oplossings vorendag gekom om ʼn tydelike verbinding aan die deel van die kragstasie wat nog werk, te maak.

Dit moes tyd win vir die kontrakteur, wat aangestel is om die kragtoevoer te herstel, om die nodige toerusting in die hande te kry.

“Die krag het gister aangekom en toe teen om en by 19:00 het die substasie ontplof en ons weer in donkerte gedompel.”

Volgens Quinta is die probleem nou veel groter as aanvanklik, met selfs meer mense wat nou sonder krag sit.

Die situasie is glo so beroerd dat die munisipaliteit se bestuurder van elektrisiteit aan Quinta meegedeel het dat die munisipaliteit die hele substasie sal moet vervang. Dit is nog nie duidelik hoe lank die herstel aan die substasie sal duur nie.

Sy, en die 6 000 inwoners wat deur die kragkrisis geraak is, wag nog steeds op amptelike terugvoer van die munisipaliteit oor die stand van sake.

“Dit lyk asof die hele situasie net agteruitgaan.”

Quinta probeer sedert die ontploffing om toegang tot die substasie te verkry, maar kon nog nie daarin slaag om self die omvang van die skade te bepaal nie.

“Ons almal sit nou letterlik in die donker en wag op antwoorde,” sê sy.

Die dorp se watertoevoer is ten minste al herstel nadat ʼn maatskappy ʼn kragopwekker by die waterpompstasie laat installeer het sodat water weer gepomp kan word.

Verskeie ondernemings moes egter steeds verlede week hul deure sluit weens die kragkrisis en diegene wat nie kragopwekkers het nie, sit steeds met hul hande in hul hare.

“Daar is ʼn groot apteek wat reeds toegemaak het, so ʼn mens raak bekommerd oor diegene wat hul kroniese medikasie moet gaan afhaal,” sê Quinta.

“Dit kos ook ʼn klein onderneming R500 per dag om ʼn kragopwekker te laat loop en ons is nou al by dag agt sonder krag. Niemand kan dit meer bekostig nie.”

Mismoedige inwoners moes ook al die vleis in hul vrieskaste weggooi.

“Dit gaan baie swaar hier en daar is geen manier om voorsiening vir die toekoms te maak met geen duidelik terugvoer oor die stand van sake nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Groen Ghoen ·

Wat van die ANC se gebruiklike innoverende oplossings: (1) Hernoem die dorp? (2) Die Burgemeester verkondig beloftes wat geen hoop het om ooit te realiseer nie (3) ‘n SEB tender vir die kaders (4) Die Staatspresident is verras en praat daarna vir ‘n uur in sirkels (5) Dit is alles Jan van Riebeeck se skuld (6) Apartheid het die gebrek aan kundigheid veroorsaak (7) Die vloede in KZN (8) COVID het die gebrek aan ekonomiese groei veroorsaak daarom is die geld vir instandhouding gedaan…. Die lys is nog lank. Alles behalwe die waarheid sal vertel word.

Durban Afrikaner ·

So wag, mense het nogsteeds nie sonpanele nie? Dit is baie goedkoper as wat almal dink. Neem die bedrag uit die huisverband uit. Dit kos dan minder per maand op elektrisiteit,en die ligte is altyd aan. Hou eksdom vír noodgevalle,en een muurprop met net n ketel indien hulle die twak van R900 pm probeer.

KatjieDeKat ·

Net jammer om jou te moet herinner, miljoene der miljoene mense Het nie n huisverband om die bedrag vir die sonpanele uit te neem nie. Hulle moet huur, of bly in shacks in townships, of in woonstelle ens. Ek weet nie hoe iemand net kan aanneem dat die meerderheid vd bevolking huisverbande of geld vir sonpanele het nie? In beginsel stem ek natuurlik saam met jou, soveel beter om onafhanklik van Eskom te wees. Maar ongelukkig is dit vir die meerderheid vd bevolking eenvoudig net nie moontlik nie.

Dries ·

Dit is juis die meerderheid wat die substasie gesaboteur het.

Ann ·

Jy kan maklik praat! Hoe gaan die gewone salaristrekker of pensioenaris dit bekostig?

Hasie ·

Die regering sê paar woorde wat niks beteken nie en mooi klink en dan is almal weer happy …en steeds ploeter Jan publiek maar aan …

Miskruier ·

As dit so aangaan het Eskom binnekort genoeg krag vir die land.

Gert ·

Ons praat onsself net dieper in die moeilikheid in, hulle weet dit en geniet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.