Hartaanval eis boer voor heli neerstort

Jurie Wessels het ’n hartaanval gehad voordat sy helikopter Maandag neergestort het. (Foto: Facebook / Jaco de Villiers)

Jurie Wessels (71), ʼn bekende boer van Hennenman in die Vrystaat, het ’n hartaanval gehad voor sy helikopter Maandag op die plaas Rockridge buite Parys neergestort het.

Só het sy swaer en boesemvriend, Jaco de Villiers, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Die familie het Dinsdag die uitslae van die nadoodse ondersoek ontvang. Die ondersoek het bevind dat Wessels reeds dood was teen die tyd dat sy Hughes 268C-helikopter die grond getref het.

Maroela Media het vroeër berig dat die helikopter kragdrade getref het voor dit geval het.

Die ongeluk het op De Villiers se verjaardag plaasgevind. Hy sê hy het dadelik vermoed dat iets anders – met die helikopter óf met Wessels – skeefgeloop het.

“Hy was ʼn baie bekwame boer én vlieënier.

“Hy sou nie iewers land tensy dit veilig was om daar te land nie. Toe ek die ooggetuies se weergawes hoor, het ek dadelik geweet daar moes iets anders fout gegaan het. Daar was aanduidings dat hy wou land en die helikopter toe skielik in die lug opgeruk het voor die ongeluk gebeur het.”

Volgens De Villiers het Wessels op die betrokke dag ’n sake-afspraak by Rockridge gehad.

Wessels het self op Hennenman geboer waar hy onder meer ’n melkery, saai- en veeboerdery bedryf het.

De Villiers sê sy swaer was ’n uiters hardwerkende man en ware boer in murg en been.

Jurie Wessels is dood nadat sy helikopter op ’n plaas buite Parys neergestort het. (Foto: Verskaf)

“Hy het verskriklik hard gewerk en aan sy gesin voorsien. Alles wat hy gedoen het, was vir sy vrou en kinders. Hy was die toonbeeld van hoe ’n boer in Suid-Afrika moet lyk.

“Daar was nie kwaad in hom nie. Hy het in vrede gewerk en geleef en ook in vrede gesterf.”

Wessels word deur sy vrou, Linda, en drie dogters, Lindie Fourie, Junita Nel en Isma Fourie oorleef. Hy laat ook sewe kleinkinders agter. Isma woon in Texas in die VSA.

Begrafnisreëlings sal na verwagting oor die naweek afgehandel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Dit is hartseer maar hy het gesterf terwyl hy dit gedoen het waarvoor hy lief was.Vlieg hoog my oom,nou het oom nie meer ‘n vlieg lisensie nodig nie.

Paul ·

Stem saam.. daai oom boer nog voltyds.. Baie mense kan blaadjie uit sy lewensboek neem..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.