Minnaar se moordenaar swaar gestraf

Argieffoto

Die Noordwes-polisie het die vonnis van ʼn veroordeelde moordenaar verwelkom wat sy vervreemde vrou se nuwe minnaar in 2016 in Hartbeesfontein wreed aangeval en beroof het.

Sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die moordenaar, Gaopalelwe Rothman (41), is op 24 Mei 2016 in Hartbeesfontein in hegtenis geneem nadat hy by Jacob Mqikela (38) se huis ingebreek en hom vermoor het.

“Die polisie is destyds na die toneel ontbied oomblikke nadat die moord plaasgevind het. Op pad na die slagoffer se huis, het die polisie Rothman opgemerk wat ʼn sak by hom gehad het. Die beskuldigde is voorgekeer en sy sak is deursoek, waarna ʼn bebloede mes, pik en ʼn hamer gevind is,” het Moleko gesê.

Die polisie het Rothman na Mqikela se huis vergesel, waar hulle Mqikela se liggaam met verskeie steekwonde en wonde aan sy kop en lyf aangetref het. Rothman is dadelik in hegtenis geneem.

“Tydens die ondersoek het dit aan die lig gekom dat die beskuldigde by die slagoffer se huis ingebreek en hom in sy kamer ingewag het. Die slagoffer is met ʼn mes aangeval toe hy by die huis gekom het.”

Mqikela het probeer vlug. Rothman het hom agternagesit en buite die huis verder met die mes gesteek. Rothman het ook die pik en byl gebruik om Mqikela mee aan te rand totdat hy dood was.

“Verdere ondersoek het vasgestel dat die beskuldigde in 2015 sy vrou aangerand het en tot 18 maande tronkstraf gevonnis is op aanklag van huishoudelike geweld. Rothman en sy vrou is daarna vervreem en sy het ʼn romantiese verhouding met Mqikela aangeknoop, wat glo die motief vir die moord was,” het Moleko bygevoeg.

Rothman is Maandag tydens ʼn sitting van die Noordwes-hooggeregshof in Potchefstroom tot 10 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van huisbraak met die doel om te moor, 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en lewenslange tronkstraf op aanklag van moord.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het die speurders geloof wat die saak ondersoek het.

“Met dié vonnis stuur ons ʼn duidelike boodskap aan booswigte dat hulle die volle mag van die gereg sal voel as hulle ʼn misdaad pleeg,” het Motswenyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.