Hartbeespoort-verdagte weer aangekeer

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Een van vyf verdagtes wat uit polisie-aanhouding in Hartbeespoort in Noordwes ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

“Ashley Mayepi is Donderdag in Atteridgeville-Wes in Pretoria aangekeer,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, gesê. Mayepi (27) van Malawi, was in aanhouding by die polisieselle in verband met huisbraak in Junie 2015 toe hy en vier ander verhoorafwagtendes op 4 Julie ontsnap het.

“Tydens sy inhegtenisneming het hy ʼn voorwerp by hom gehad wat die groep moontlik gehelp het om met die slotstelsel te peuter voor hulle ontsnap het,” het Ramaloko bygevoeg.

Die polisie is nog op die spoor van die ander voortvlugtiges. Maroela Media het vroeër berig vyf mans het Saterdag net voor middernag uit polisieaanhouding by die Hartbeespoort-polisieselle ontsnap.

“Mayepi se inhegtenisneming is ʼn groot deurbraak,” het genl.maj. Jacob Tsumane, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, verduidelik. “Sy inhegtenisneming help ons nou om die gebeure te volg wat tot hul ontsnapping gelei het.”

Tsumane het gesê Mayepi se vier medepligtiges, Anthony Chauke (32), Nicholas Masipa (27), Phillip Masingili (33) en Samuel Mariti (27) sal ook “binnekort weer terug wees waar hulle behoort – in polisie-aanhouding”.

Mayepi staan nou ook tereg op bykomende klagte van ontsnapping uit wettige aanhouding. Hy sal binnekort in die Brits-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.