‘Hartelose’ man gestraf vir moord op meisie, vier kinders

Die huis waar die ma en die vier kinders geslaap het. Foto: Vrystaat SAPD

ʼn 32-jarige man is Donderdag in die Vrystaat-hooggeregshof deur die regter as ʼn wrede en hartelose moordenaar beskryf nadat hy skuldig bevind is aan die moorde van vyf mense, waaronder vier kinders.

Regter Martha Mbhele het die moordenaar, Lehlohonolo Joshua Tsiane, gevonnis vir moorde wat hy op 3 Maart verlede jaar in die Ratau-nedersetting in Thaba Nchu gepleeg het.

Maroela Media het vroeër berig Mmokgo Maria Sepagela (24), Tsiane se destydse meisie, en vier kinders, tussen ses en nege jaar oud, het die oggend in haar huis geslaap toe Tsiane daar opgedaag het. ʼn Rusie het ontstaan en Tsiane het die huis verlaat, maar later met ʼn houer vol petrol teruggekeer.

Hy het petrol oor die huis gegooi en dit aan die brand gesteek met die vyf mense steeds binne. Die kinders, Moleboheng Rethabile Sepagela (8), Malehlohonolo Dimakatso Sepagela (6), Rethabile Augustinah Ralebakeng (9) en Obakeng Junior Ralebakeng (8), het in die huis doodgebrand.

Mmokgo kon daarin slaag om uit die brandende huis te kom, maar Tsiane het glo steeds buite gewag en haar na bewering met ʼn stok aangerand. Sy het ses dae later in ʼn hospitaal gesterf.

Daar word beweer dat Tsiane na Ladybrand gevlug het waar hy by iemand se huis ingebreek het. Hy is later in hegtenis geneem en tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Hy is daar by die gevangenis deur ondersoekbeamptes opgespoor en hy is in hegtenis geneem.

Mbhele het Tsiane skuldig bevind op vyf aanklagte van moord en een aanklag van huisbraak met die opset om brandstigting te pleeg.

Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom Tsiane het Mmokgo daarvan beskuldig dat sy ander mans gesien het. Die rusie het ontstaan toe Tsiane ʼn selfoon wat hy vir Mmokgo gekoop het, wou terughê.

Twee van die kinders wat dood is, was Mmokgo sʼn en twee was dié van ʼn vriend van haar.

Mbhele het Tsiane tot vyf maal lewenslange tronkstraf gevonnis vir elke moordaanklag. Hy is ʼn bykomende sewe jaar tronkstraf gevonnis op die aanklag van brandstigting.

Adv. Navilla Somaru, waarnemende direkteur van openbare vervolging in die Vrystaat, het die vonnis verwelkom.

“Moord is nie ʼn oplossing vir enige geskil nie en dit is uiters hartseer dat onskuldige mense hul lewens deur die beskuldigde se optrede verloor het. Die vonnis wat opgelê is, is ʼn perfekte voorbeeld dat die hof nie geweld teen die kwesbaarstes in ons samelewing sal duld nie,” het Somaru gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gatvol ·

En na 7 tot 25 jaar loop hy vry rond, ontvang beskerming 24 uur per dag, gratis medies, kos, slaapplek, opleiding ens waarvoor ons belastingbetalers moet betaal. Wat het geword van hardepad. Handearbeid. Werk vir sy kos.Die beste sal die doodstraf wees.

Cherokee ·

Mbhele het Tsiane tot vyf maal lewenslange tronkstraf gevonnis vir elke moordaanklag.
Vyf en twintig keer tot lewenslank gevonnis dus. 25 Keer sê jy Phillip. Hoop dit word nie gesamentlik uitgedien nie.

Cherokee ·

In ‘n opvolg-kommentaar sou ek graag wou weet waarom ‘Hartelose’ in die titel van die berig, in aanhalingstekens is. Klink soos “issie ek wat so sê nie, dissie regter!” Die titel behoort te gelui het ‘diaboliese moordenaar’. Regdenkende mense word herhalend geskok met gebeure in sonnige Suid Afrika. Miskien moes ek ‘n joernalis gewees het, maar dan weer, wie wil permanent in harnas met ‘n skild loop:-)

Sarel Strydom ·

Vyf maal lewenslank? Word aaneenlopend uitgedien dus net 1 x lewenslank?

Cherokee ·

Wel Sarel, lees weer wat die berigskrywer sê ” 5 maal lewenslank vir elke moordaanklag. ” Daar is 5 moordaanklagte. 25 Keer dus.

Ben ·

En nou is dit die boere se skuld dat hulle, hulle eie mense uitmoor. Swart Genocide deur eie mense gedoen. Doodstraf moet ingestel word vir moordenaars wat meer as een mens en polisie doodmaak.

Cherokee ·

En as ‘n moordenaar net een mens wat nie polisielid is nie, dooi? Wat dan? Vreemde siening, Ben. Jy kan mos nie ‘n perk op moorde instel! Die perk moet zero wees.

Irene ·

Dit is seker lekker vit die soort mense om in die tronk te wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.