Harties-boottragedie: Kind deur snuffelhond opgespoor

Zandré toe hy jonger was. Foto: Facebook

Zandré toe hy jonger was. Foto: Facebook

Zandré Vosloo, die 23 maande oue peuter wat Sondag in die Hartbeespoortdam verdwyn het nadat die rubberboot waarop hy was omgeslaan het, se liggaam is Maandag met behulp van ʼn snuffelhond opgespoor.

Kol. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, het gesê die kind se liggaam is deur ʼn polisiesnuffelhond, wat deur ʼn beampte van die duikeenheid in Rustenburg hanteer is, opgespoor vier uur nadat die soektog om 07:00 hervat is. Zandré sou volgende maand sy tweede verjaardag gevier het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn gesin van Pretoria-Noord, ’n pa, Jan, ’n ma, Cindy, en hul kinders die naweek in ʼn woonwapark saam met vriende tuisgegaan het.

Die boot waarop Zandré saam met die skipper, sy ma en twee ander kinders gevaar het, het glo omstreeks 15:45 omgeslaan nadat die rubberboot, wat twee mense op ʼn opblaasband agterna gesleep het, ʼn skerp draai gemaak en omgeslaan het. Die voorval het naby die Eagle Waters-vakansieoord in die suidelike deel van die dam plaasgevind.

Van die omstanders het mans met ʼn waterponie ontbied om die mense te help, en ander omstanders het die polisie, ambulans en NSRI ontbied. Daar was geen teken van die seun nie en daar is vermoed dat hy verdrink het. Die polisie en NSRI het Sondag tot en met sononder na hom gesoek waarna die soektog weens swak sigbaarheid afgelas is.

Jessi Richter, vriende van die Vosloo-egpaar wat tydens die voorval by die dam was, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle wil in dié stadium geen kommentaar lewer nie. “Ons versoek almal om die familie te respekteer. Hulle sal praat wanneer die tyd reg is,” het sy gesê.

Richter, wie seun glo saam op die rubberboot was toe dit omgeslaan het, het Sondagaand op haar Facebook-blad geskryf: “Vanaand is ek in middel deur. My hart is in flenters. Hoe word mens genees van so iets. Vandag was die aakligste dag in my Lewe. Ek gaan op my knieë en ek vra God vir genesing. My kind was vandag gespaar. Hy het ʼn 2de kans op lewe gekry. Cindy en Jan woorde kan nie beskryf hoe jammer ek is oor die julle engel kind nie. Julle is in die ons gebede. Ná vandag sal ons lewe nooit weer dieselfde wees nie. Ons gaan rou, ons gaan huil. Zandré liefie ek weet jy is by die voorkant van ons God se voete. Rus my liefste ons gaan jou so mis”. [sic]

Maroela Media het die vakansieoord genader vir kommentaar, maar hulle het geweier om met die media te praat.

Die polisie doen ‘n geregtelike doodsondersoek.

Op versoek van die familie het Maroela Media besluit om die kommentaar op beriggewing oor hierdie voorval te sluit, ten einde spekulasie te voorkom. Die familie het onderneem om meer inligting met Maroela Media te deel sodra hulle gereed is om daaroor te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.