Hartontvanger se ‘ekstra tyd’ ná kwarteeu verby

Albertus Scholtz. Foto: Verskaf

Enkele dae nadat Albertus Scholtz (73) van Stilbaai in die Wes-Kaap ʼn heerlike geselligheid saam met sy vriende en familie gehad het om die 25 jaar te vier wat sy oorgeplante hart al in sy borskas klop, het hy in die waakeenheid van ʼn hospitaal gesterf.

Scholtz se vrou, Jeannie, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar man het, nadat hy alle dokters se verwagtinge oortref het, sy laaste asem op 2 Julie uitgeblaas. “Ek is verskriklik hartseer en ek huil aan mekaar, maar ek is so dankbaar. So dankbaar vir die tyd wat die Here hom gegee het, so dankbaar vir die mooi manier waarop die Here hom gevat het. Albertus het altyd gesê hy wil net graag eendag met waardigheid sterf en sy wens is bewaarheid. Hy het waardig en mooi gegaan,” sê Jeannie.

Maroela Media het verlede maand berig oor Scholtz wat 25 jaar ná ʼn hartoorplanting steeds ʼn gesonde en vervulde lewe lei. Scholtz het vertel hoe sy lewe handomkeer verander het ná die ingrypende operasie en hoe hy “elke dag dankbaar is vir die ekstra dag” wat hy gekry het.

Scholtz was ook ʼn groot voorstaander van orgaanskenking en het sy “ekstra tyd” en sy lewensverhaal gebruik om bewusmaking hieroor te skep en mense in te lig oor die voordele daarvan.

Jeannie vertel hulle het net meer as ʼn week voor Albertus se dood ʼn geleentheid gehou om die 25 jaar ná die hartoorplanting, wat op 22 Junie 1993 plaasgevind het, te vier. “Dit was regtig ʼn viering van sy lewe. Albertus het so goed gevoel en hy het goed gelyk. Ek kon sommer sien hy voel goed. Hy het tussen die tafels deur beweeg en met al ons vriende en familie gesels,” sê sy.

Albertus en Jeannie Scholtz. Foto: Verskaf

Sy vertel Scholtz was ʼn wonderlike positiewe mens wat ander aangesteek het met sy positiwiteit en lewenslus. “Ek het daardie dag van die geselligheid vir die mense gesê ons is hier om sy lewe te vier. As daar iets is wat julle vir Albertus wil sê, sê dit vandag vir hom. Moenie wag tot die dag wat hy dood is nie, sê dit nou wanneer hy dit kan hoor. Ons seun, Ignatius, het ook ʼn huldeblyk geskryf wat ek aan Albertus kon voorlees. Min het ons geweet… Op ʼn manier was daardie dag ʼn afskeid sonder dat ons dit geweet het.”

ʼn Paar dae ná die geselligheid het Scholtz by die huis inmekaargesak en hy is twee dae later in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem. Volgens Jeannie was Scholtz toe reeds in ʼn koma en het hy in algehele orgaanversaking ingegaan. Hy het dae later gesterf sonder dat hy ooit weer wakker geword het.

“Ek voel vandag net dankbaar dat Albertus die geleentheid gekry het om sy getuienis met mense te deel voor sy dood. Hy het so ʼn goeie bydrae tot die samelewing gelewer en mense was so lief vir hom. Ek kan net terugkyk op ʼn wonderlike vervulde lewe wat hy gehad het.”

ʼn Gedenkdiens vir Scholtz sal môre in Stilbaai gehou word, aangesien die familie gewag het vir Ignatius om vanaf Dubai na Suid-Afrika te reis.

*Om meer oor orgaanskenking te wete te kom, besoek gerus die Stigting vir Orgaanskenking se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Katerina ·

Ek is so bly die oom het n kwart eeu ekstra gehad, medelye aan sy geliefdes.Hy het darem n lang en goeie lewe gehad,mens kan op sy foto sien sy lewe was gelukkig.

leser ·

dit was die genade van God wat hom die extra tyd gegee het, alle eer aan God

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.