Hartontvanger se ‘geleende tyd’ ná 24 jaar verby

Willie van Aarde (Foto: Verskaf)

Willie van Aarde, die 67-jarige man van Paul Roux in die Vrystaat wat onlangs 24 jaar ná ʼn hartoorplanting met Maroela Media oor sy “geleende tyd” gesels het, is Sondagaand dood.

Van Aarde se seun, Jason, het dié nuus bevestig.

Jason sê Van Aarde het geruime tyd aan hartversaking gely en sy toestand het sowat twee weke gelede versleg toe hy ʼn ligte hartaanval gehad het. Volgens hom kon dokters weens sy swak gesondheid nié ʼn operasie uitvoer nie en moes die familie daarmee vrede maak dat hy binnekort sou sterf.

“Hy het twee weke gelede geval en sy heup gebreek toe hy ʼn ligte hartaanval gehad het. Hy is na die hospitaal geneem, maar ʼn operasie was buite die kwessie omdat sy gesondheid te swak was – hulle het gesê hy sou dit waarskynlik nie maak nie. Hy het geweet sy tyd was verby en hy het gekies om by die huis tussen sy mense te wees,” sê Jason.

Jason sê die afsterwe van sy pa is ʼn dubbele tragedie wat die gesin tans probeer verwerk. Sy ma, Emmerentzia, is onlangs met borskanker gediagnoseer.

“My ma se chemoterapie-behandeling lê nog voor. Dit is vir die gesin moeilik omdat dit baie groot hartseer in só kort tydperk is. Maar ons is dankbaar dat ons tyd saam met ons pa gehad het, en ons glo en vertrou in God se genade en dat alles sal uitwerk soos dit moet.”

Van Aarde, ʼn voormalige wenner van die Landbouskrywersvereniging se SA Boer van die Jaar, het 24 jaar gelede ná ʼn hartoorplanting in die Groote Schuur-hospitaal ʼn tweede kans op lewe gekry. Rumatiekkoors het reeds op laerskool sy hartkleppe aangetas, maar ’n 23-jarige jong man, wat in 1993 ’n bergklimongeluk dood is, se hart het Van Aarde se lewe vir nóg 24 jaar vir sy gesin gespaar.

Dié voormalige veeboer en provinsiale stoeikampioen in die destydse Transvaal het vroeër aan Maroela Media vertel hy is “seker een van die geseëndste mense in hierdie wêreld”. Hy het egter ook vertel dat hy sy dae koester omdat hy onseker is wanneer sy geleende tyd verby sou wees – maar tot dié dag kom sou hy elke dag “sy seëninge tel en gekoester bly in die liefde van geliefdes en vriende”.

Van Aarde word Saterdag vanuit die NG Kerk op Paul Roux begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mariane Fourie ·

RIP oom Willie. Vrystaat het ‘n besondere mens verloor maar oom is nou in ‘n baaiiee beter plek. Sterkte vir Emmie, Patrys, Jason, Marika en die Van Aarde familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.