Hartoorplanting op jong meisie ‘eerste in jare’

Parusia Muhigirwa het reeds in Februarie vanjaar ‘n hartoorplanting ontvang. (Foto: Verskaf)

ʼn Span spesialiste by die Rooi Kruis-kinderhospitaal en Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad het ʼn 13-jarige meise ʼn hernude kans op lewe gegee nadat sy ʼn geslaagde hartoorplanting ondergaan het.

Parusia Muhigirwa se oorplanting is glo die eerste hartoorplanting wat in 13 jaar by dié kinderhospitaal gedoen is.

“Om weer ʼn hartoorplantingsdiens vir kinders aan te bied, is bemoedigend en verseker dat ons kinders met hartversaking ʼn nuwe kans op lewe kan gee,” sê prof. Liesl Zühlke, pediatriese kardioloog by die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

“Ons glo dat nog baie jong pasiënte soos Parusia, en hul families, by hierdie diens kan baat,” sê dr. Anita Parbhoo, waarnemende uitvoerende hoof van die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

Parusia, wat reeds in Februarie vanjaar die oorplanting ontvang het, is volgens haar dokters op pad na herstel. Ná die lewensveranderende operasie beplan sy om ʼn dokter te word om ander kinders met hartkwale te help.

Parusia het ʼn toestand genaamd gedilateerde kardiomiopatie, wat veroorsaak dat haar hartspier verswak, slap geword en vergroot het. Hierdie toestand is meestal te wyte aan ʼn virusinfeksie wat die hartspier aanval, maar die presiese oorsaak is onbekend.

“Sommige kinders word met abnormale hartstrukture gebore en ander erf dit van hul ouers. Dikwels kan daar geopereer word, maar dit is moontlik dat komplikasies kan ontstaan en die hart nie heeltemal herstel nie. Dit is dan wanneer die enigste opsie ʼn hartoorplanting is,” sê Zühlke.

Hoewel die familie, kind en die betrokke spesialiste besluit het om ʼn hartoorplanting te laat doen, is die proses om dit te bewerkstellig ʼn lang en moeilike een.

“Ons bestee ongelooflik baie tyd daaraan om kinders met dié soort toestande gereed te maak vir ʼn hartoorplanting. Die besluit om dit wel te doen word noukeurig deur die familie, kind en spesialiste bespreek en daarna haarfyn beplan.”

In normale omstandighede is kinders se hartoorplantings uitdagend, maar sedert die Covid-19-pandemie is daar ander gesondheidsrisiko’s wat in ag geneem moet word, sê prof. Mignon McCulloch, hoof van die pediatriese oorplantingsdienste by die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

“Immuunonderdrukking, veral by kinders, is ʼn groot uitdaging tydens die Covid-19-pandemie. Pasiënte se toestande moet fyn dopgehou word om te verseker dat elkeen die beste kans het om ʼn geslaagde hartoorplanting te hê.”

Nadat die oorplanting gedoen is, is daar maandelikse opvolgafsprake waar kardiogramme, bloedtoetse en ʼn verskeidenheid assesserings gedoen word. Pasiënte se immuunonderdrukking word ook noukeurig gemonitor om enige infeksie te voorkom.

“Ondanks die uitdagings is ons opgewonde om die oorplantingsdienste by die hospitaal weer van stapel te stuur,” sê Parbhoo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

Bly om te sien daar is nog bekwame medici in die land oor en dat die regering nog nie almal land-uit gejaag het nie. Sterkte!

Abie ·

Wat n mooi kind!,’ Bly die prosedure was n sukses. Geluk en dankie aan almal betrokke. Goeie nuus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.