Hartprobleem knip man se staptog vir renosters kort

francois-myburgh

Francois Myburgh span by Bergrivier uit tydens sy staptog vir renosters. Foto: Verskaf.

Francois Myburgh (27) van Witpoortjie in Johannesburg se staptog om bewusmaking vir renosterstropery te skep, is kortgeknip nadat hy pyne in sy hart en linkerskouer gekry het.

Maroela Media het vroeër berig Myburgh beplan om tussen 1 Junie en 31 Julie vanjaar ʼn staptoer van 3 870 km af te lê om R100 000 vir renosterbewaring in te samel. Hy sou by plekke soos Magaliespark, Kimberley, Sutherland, Kaapstad, Kareedouw en Ficksburg aandoen en die staptog sou by die Krugerwildtuin eindig.

Hy het egter ʼn pyn in sy hart gevoel toe hy onlangs uit Plettenbergbaai  vertrek het om sy staptoer deur die Oos-Kaap voort te sit. ʼn Dokter het hom deurentyd tot in Port Elizabeth gemonitor. Nadat die pyne vererger het, het hy besluit om eerder sy staptoer te onderbreek. ʼn Dokter in Pretoria het Myburgh Maandag aanbeveel om vir twee maande te rus terwyl hy wag om ʼn kardioloog te spreek om die oorsaak van die pyne te bepaal.

Ondanks wat die dokters sê, beplan Myburgh om tog sy staptoer te voltooi.

“Ek het reeds 2 600 km gestap en sal graag weer die eerste naweek in Oktober wil begin stap sodat ek die verdere 1 600 km kan klaarmaak. My planne het nou verander, en ek sal graag my staptog in Vivo, Limpopo, tydens ʼn renostermaan wil eindig. Dit kan moontlik ʼn verdere 200 km by die toer byvoeg.”

Myburgh sê hy glo hy gee met sy staptogte ʼn stem aan diere wat nie vir hulself kan praat nie.

“Die getal renosters wat jaarliks gestroop word, is skokkend. Boonop word die diere ook nog so wreed doodgemaak. Ek glo God het ons ʼn opdrag gegee om ook na diere om te sien, en dit beteken ook om te verhoed dat sekere spesies soos renosters uitsterf.”

Myburgh het sy eerste en tweede staptogte van 100 km elk vir renosters in 2014 voltooi. Sy derde staptoer was in 2015 toe hy van Johannesburg na Brits in die Noordwes-provinsie vir dieselfde saak gestap het.

Sy jongste staptog vir die bewusmaking van renosters se nood is beslis ook nie sy laaste nie, sê Myburgh: “Ek sal graag ook nog in Nieu-Seeland en Australië wil stap vir renosters.

“Die toekoms van die renoster se oorlewing lê nou in ons eie hande.”

  • Lesers wat Myburgh se staptog wil volg, kan by sy Facebook-blad, Walk for Rhinos, aansluit. Lesers kan ook by Myburgh se WhatsApp-groep aansluit om op die hoogte te bly van sy staptoer vir renosterbewaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.