Hartseer einde aan soektog na vermiste Charles Tolmay

Charles Tolmay (Foto: Facebook)

Charles Tolmay, wat byna ’n week gelede op ’n plaas in die omgewing van Tzaneen in Limpopo verdwyn het, se liggaam is Woensdagoggend in ’n dam naby dié plaas gevind.

Die 74-jarige Tolmay was ’n diabeet en het aan Alzheimer se siekte gely.

“Ons weet nie hoe hierdie gebeur het nie,” sê Mariette van der Westhuizen, koördineerder van die plaaslike buurtwagte wat saam met onder meer inwoners van die gebied die afgelope week onverpoos na Tolmay gesoek het.

Van der Westhuizen sê ’n werker het vanoggend op Tolmay se liggaam afgekom in ’n dam naby die plaas Gladstone by Tarentaalrand waar hy verlede Donderdag verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig Tolmay se dogter het hom die betrokke middag omstreeks 12:00 laas gesien toe hy gaan stap het. Hy het nooit weer teruggekeer huis toe nie.

Dit is nie duidelik of Tolmay die betrokke middag afgedwaal het en waar hy hom die afgelope week bevind het nie.

Van der Westhuizen sê ’n ondersoek sal gedoen word in ’n poging om antwoorde aan die familie te verskaf.

“Vandag het ’n groot reus in ons gemeenskap ’n onherroeplike groot leemte kom los,” skryf ’n lid van die gemeenskap op sosiale media oor Tolmay se dood.

“Charles was ’n pa, ’n oupa, ’n vriend en ’n mentor vir baie mense in ons gemeenskap. Hierdie gemeenskap is deur Charles Tolmay grootgemaak,” lui die inskrywing op die groep “Soektog na Oom Charles Tolmay”.

“Die soektog na Charles was groot, maar sy hart vir sy mense was groter as dit.”

Luidens inligting op dié groep op Facebook is die soektog na Tolmay vanoggend hervat voor sy liggaam later in die dam gevind is.

Die oorsaak van sy dood is in hierdie stadium onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.