Hartseer einde vir ikoniese pretpark in Durban

(Foto: Verskaf)

“Dit breek my hart om te sien hoe iets wat my familie van die grond af opgebou het, nou tot niet moet gaan.”

Só sê Nic Steyn oor die gewilde Durban Funworld-pretpark, met sy kenmerkende rooi kabelkarretjies en kleurvolle pretritte, wat na dekades gaan sluit.

Dié pretpark het in 1938 aanvanklik as ’n miniatuur-treinrit op Durban se Noordstrand begin. Dit het later tot ’n volwaardige gesinsvermaaklikheid langs die hoofstrand uitgebrei. Hoewel dit deur die jare onder verskeie name bedryf is, word dit al vir langer as 80 jaar deur dieselfde familie besit en bedryf.

ʼn Stryd met die eThekwini-munisipaliteit, eienaar van die grond waarop die pretpark al vir 75 jaar geleë is, het dit egter onmoontlik gemaak om die pretpark se wiele aan die rol te hou.

Steyn, die derde generasie- eienaar, se huurkontrak met die munisipaliteit het in 2017 verstryk en hy het Funworld sedertdien op ’n maand-tot-maand-basis bedryf. Dit tesame met ekonomiese omstandighede – met min klante gewillig om hul geld op pretritte te bestee – het die einde vir Durban se Funworld beteken.

Steyn vertel hoe hy oor die afgelope jare hartseer moes toekyk hoe Durban se juweel, die hoofstrandfront, teen ’n kommerwekkende tempo agteruitgaan.

“Ek wil nie bydra tot die agteruitgang nie, maar die munisipaliteit maak dit vir my onmoontlik. Ek bedryf hierdie pretpark al vir ses jaar op ʼn maand-tot-maand-kontrak teen R40 000 per maand. Dit is nie winsgewend nie en die situasie het nou onuithoudbaar geword.”

Sy pa het Durban Funworld opgebou tot waar dit vandag is, sê Steyn.

“Hy het Funworld vir 365 dae van die jaar oopgemaak en ek onthou dat hy destyds nie voor middernag sou sluit nie. Nou wil geen siel later as 19:00 saans op hierdie strandfront wees nie.

“Ek werk al hier vandat ek tien jaar oud is en my pa het my oor naweke en vakansies by Funworld met talle takies besig gehou. Hy het altyd aangeneem dat ek uiteindelik by hom sou oorneem, en ek het.”

(Foto: Verskaf)

Nic Steyn sr. is in 2000 oorlede, waarna Steyn jr. die onderneming vir ʼn volgende 23 jaar laat voortleef  het. Ná dekades se harde werk en kapitaaluitgawes moet Steyn egter nou van sy erfenis afskeid neem.

“Die park was nog altyd deel van my gewees. Ek het foto’s waar ek as ʼn baba by die pretritte sit en dit is sielsvernietigend om te sien hoe alles nou uitmekaar geruk moet word.

“Ek het nou tot hierdie punt gekom, nie oor ʼn gebrek aan moeite van my kant af nie, maar bloot oor die gebrek aan belangstelling van die eThekwini-munisipaliteit.”

Hy vertel dat hy die afgelope 12 jaar al probeer om die pretritte en ander bates wat deur Durban Funworld bedryf word, aan ’n geskikte operateur te verkoop.

“My kinders het almal hulle eie ondernemings en nie een van hulle kan by my oorvat nie, maar ek wou steeds hê die ikoniese pretpark moes voortleef. Ek sou graag wou sien hoe dit verbeter en groei tot voordeel van sy personeel, sy kliënte en die Durbanse strandfront as ʼn geheel,” sê Steyn.

Vir hom gaan dit veral oor die meer as 30 permanente werknemers wat nou nie vir hulle families kan sorg nie. Hy vertel dat hy in vrede sou aanbeweeg as hulle by Funworld kon aanbly.

“Die eintlike tragedie is dat ek werkers het wat al vir dekades deel is van Funworld en sommige van hulle ken die pretritte beter as ek. Ek sou vrede in my hart kon vind indien die munisipaliteit net die regte ding wou doen, sodat hierdie mense kon aanbly en hul werk behou. Waarheen gaan hulle nou?”

Talle kopers het Steyn genader, maar almal het hulle teen dieselfde struikelblok vasgeloop – nie een kon ’n huurkontrak vir die perseel by die eThekwini-munisipaliteit kry nie.

Voor Steyn se huurkontrak verstryk het, het die munisipaliteit ’n brief in Julie 2016 uitgereik waarin gesê is dat die huurkontrak vir ’n verdere agt jaar verleng sal word, maar ná die nuwe munisipale verkiesing in Augustus 2016 is die ooreenkoms egter nie nagekom nie en die perseel is daarna slegs op ʼn maand-tot-maand-basis aan Steyn uitverhuur.

In Desember 2020 het die munisipaliteit ’n volledige raadsbesluit aanvaar om al die vermaakritte en besienswaardighede van Durban Funworld aan te koop om by uShaka Marine World se vermaakaanbiedinge te voeg. Daar word egter verneem dat uShaka nie die verantwoordelikheid wou aanvaar om Durban Funworld te bestuur en te bedryf nie.

Steyn het aangebied om voort te gaan om Durban Funworld te bedryf indien die munisipaliteit die pretritte wil koop.

“Ek was gewillig om aan te bly en die fasiliteite te bestuur, mense op te lei en te mentor, terwyl die besigheid as ʼn geheel op tender uitgesit word en na die geskikte operateur gesoek word. Die munisipaliteit het egter nie eens ontvangs van my brief erken nie.

“Dit het duidelik geword dat die munisipaliteit nie die pretpark ongeskonde wil hou nie,” sê Steyn.

Al die vermaakritte, besienswaardighede en ander bates sal van 20 April op ʼn aanlyn veiling deur Dales Brothers opgeveil word. Daarna sal die eThekwini-munisipaliteit die grond op tender uitsit vir die herontwikkeling van die terrein.

(Foto: Verskaf)

“As al my bates verkoop is, gaan hierdie stuk grond tot niet gaan. Die verwaarloosde toestand van die eens bekende ‘Goue Myl’ is duidelik sigbaar. Die kinderswempoele staan al drie jaar lank leeg.

“Die agteruitgang van die strandfront is die resultaat van die manier waarop dit bestuur word, en die einde van Funworld is ook ʼn bewys daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Henker ·

Nee wat, dis wat munisipaliteit/regering eintlik wil he. Dat daar niks is nie. En hulle kry dit reg.
Dis jammer om te sien die ikoon verdwyn maar n man kan net soveel doen voordat hierdie ander faktore dit menslik onmoontlik maak om aan te kan gaan.

piet ·

Ek weet nie, hy se dan self die mense wil nie meer geld bestee op pretritte nie. Is dit nie maar eintlik die probleem nie. Hierdie is ook nie uniek nie, dieselfde het gebeur met Ratanga Junction in die Kaap. Kon nie meer genoeg voete kry nie en moes sluit, nie meer finansieel haalbaar nie.

Boksombende ·

As dit veilig was om daar te wees, en die see was nie vol riool nie, dan sou mense daar wou wees. Die sluit van die fasiliteit le by die ANC se voete.

Nommer 7 ·

Onlangse fotos van die nuwejaar dui aan dat die lee swembaddens baie gewild is. Die pretpark se fondasies sal dan seker ook ‘n groot aantrekkengskrag he^.

Bulkalf ·

And another one gone, and another one gone, another one bites the dust.

Ansie ·

Is daar enigiets wat die ANC nie opmors en vernietig nie? Ons eens pragtige en veilige land verdien nie so ‘n vrotsleg regering nie.

Cherokee ·

Inteendeel, daar is ‘n gesegde wat lui ” ‘n land verdien sy regering”. Die hool wat Suid Afrika geword het, verdien nie beter nie.

Charles ·

Tipies van eTwikinie Munisipaliteit!! So sal alles tot niet gaan in hierdie pragtige land van ons!!

melaney ·

En so kom alles wat mooi is ten einde. Partykeer kry ek eienaardige gedagtes om saam alles te plunder en dan vir hulle te vra “Is julle nou gelukkig?”

RS ·

Dis baie hartseer dat sulke ikoniese plekke agteruit gaan. Ek onthou so goed, in die laat 80’s en vroëe 90’s het ons altyd trein gery van die Kaap na Durban. Een van ons “moet doen dinge” was om mini town en alles daarom te besoek. Goeie ou dae.

Bre ·

Ai, dit is so jammer en tragies. Alles gaan tot niet. Hierdie mooi land is werklik daarmee heen ????

Roek ·

Nik , Baie dankie dat ons as kinders dit kon beleef het jaar na jaar , dit was wonderlik , ek het die geleentheid gehad om my kinders ook daar te “treat”baie dankie vir die ervaring dankie dat julle deel van die Durban vakansie was, dit is egter tyd dat dit moet gaan en dit onthou soos wat dit was , die ruik nie eens meer na die see nie, alles gaan ten gronde ! Sterkte my maat !

Nici ·

Ek kan onthou as ‘n kind was dit ons eerste stop as ons in Durban aankom. Die opgewondenheid was groot om die liggies van ons hotel te kan sien. So jammer dat ons kinders nie dit sal kan beleef nie!

Albertus ·

En as jy dit wil koop mag jy nie, lyk my die folk is nie slim om dit te hardloop nie

Lillian ·

Nog ‘n mooi herinnering uit my kinderdae wat tot niet is…. Danksy hierdie onbevoegde regering en hul kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.