Hartseer ná inspirerende atleet se afsterwe

Xolani Luvuno vertel dat hy destyds soos Cristiano Ronaldo gevoel het toe hy die Comrades voltooi het. Die inspirerende Suid-Afrikaner het uiteindelik meer as 50 wedlope voltooi. (Foto: Henry Summers Photography)

Huldeblyke stroom in vir die inspirerende Xolani Luvuno nadat hy gister – ’n paar dae vóór sy 37ste verjaardag – oorlede is.

Om ’n verskil in ander se lewe te maak is vir baie mense bloot lippetaal, maar Xolani het ongetwyfeld die daad by die woord gevoeg. Daarvan getuig sy lewensverhaal.

Die dwelm- en alkoholverslaafde het op straat gebly en later sy been weens kanker verloor, maar danksy die ingryping van ’n barmhartige samaritaan en hope van sy eie deursettingsvermoë en durf, was hy ’n voorbeeld vir talle Suid-Afrikaners.

Daar is nie veel inligting oor die presiese omstandighede van sy afsterwe bekend nie. Hein Venter, die man wat hom van die straat af gehaal het en deur Xolani as sy mentor en eie pa beskryf is, het egter die nuus van sy afsterwe op sosiale media bevestig.

Oor die afgelope paar jaar het die Pretoriase sakeman al Xolani se avonture eerstehands ervaar: sy eerste marathon in 2017, die Comrades-poging op krukke in 2018, die Ironman in Oos-Londen van 2019 en ’n paar Voet van Afrika-marathons.

“Hy het soveel rolle in my lewe gespeel. Hy was ’n seun, ’n vriend, ’n drafmaat, ’n bron van inspirasie en net ’n fantastiese mens. Ons het soveel dinge saam aangepak,” het Venter vanoggend aan Maroela Media gesê.

Volgens Venter was dit maklik om Xolani se mentor te wees – daarvoor het sy nederigheid en dankbaarheid gesorg.

Vreugde nadat Xolani die Ironman voltooi het. Foto: Verskaf.

“Hy het altyd gesê ’n mens moet jou nie blind staar op dit wat jy nié het nie, maar die beste doen met dit wat jy wel het. Hy het gevoel dat hy ’n lewe van oorvloed geniet het.”

Baie sosialemediagebruikers het Xolani vir die rol bedank wat hy in hul lewe gespeel het, selfs al het hulle hom net vlugtig ontmoet.

“Hy het landwyd voor minstens 120 gehore gepraat en dit was ’n voorreg om te sien hoe mense op sy storie reageer. Dit het nie saak gemaak of hy met dwelmverslaafdes of die uitvoerende hoof van ’n groot maatskappy gepraat het nie, almal kon daarby baat vind.”

Venter vertel dat Xolani destyds toegejuig is toe hy ’n skool in George toegespreek het. Die skoolhoof het later gesê dat Nelson Mandela die enigste ander spreker was wat só ’n heldeontvangs gekry het toe hy 20 jaar vantevore die skool besoek het.

“Ek het nog nooit iemand ontmoet wat soveel dankbaarheid vir die lewe gehad het nie. Dit was ’n vreugde om iets vir hom te doen.”

Daar is nog nie finale begrafnisreëlings bekend gemaak nie, maar Xolani sal waarskynlik in die Oos-Kaap ter ruste gelê word. Venter beplan egter om ’n gedenkdiens vir hom in Pretoria te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

BOKKIEBEK ·

Wow, as almal maar net sulke deursettingsvermoë kon hê..

Winnie ·

Ai wat ‘n mooi maar hartseer storie. Hierdie Mnr Venter moet erkenning kry vir wat hy gedoen om Xolani se lewe so te verryk. Ware Chrsten

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.