Hawelose man skep self werk deur slaggate te vul

Lymen Malambo besig om die slaggate in die pad te vul met sement. Foto: Vanessa Courtenay

Lymen Malambo besig om die slaggate in die pad te vul met sement. Foto: Vanessa Courtenay

ʼn Vrou se foto op Facebook van ʼn hawe- en werklose man van Hartbeespoort in Noordwes wat op sy eie slaggate vul, kan moontlik daartoe lei dat ander werklose mense in die omgewing geholpe word.

Lymen Malambo (25) het besluit om vir homself werk te skep en hy het slaggate op die Ou Wapad in Hartbeespoort begin vul. Toe Vanessa Courtenay, ʼn inwoner in die gebied,‎ Saterdag verby hom ry waar hy hurkend in die pad besig was om ʼn slaggat met sement te vul, het sy besluit om stil te hou.

“Ek wou hy hom weet vir wie hy die werk doen,” het sy aan Maroela Media gesê. “Lymen het gesê hy doen uit sy eie die werk. Toe ek hom vra wie vir hom die geld gee, het hy ʼn strokie uit sy broeksak gehaal en vir my gewys dat hy self die sakkie sement gekoop het met geld wat hy van motoriste gekry het.”

Volgens Courtenay het sy met sy toestemming ʼn foto van hom geneem en dit op ʼn Facebook-blad gelaai. Dit is binne ʼn paar uur meer as 1 000 keer gedeel.

“Ek het oorspronklik gehoop dat minstens 20 mense van die omgewing dalk bereid sou wees om vir hom R10 te gee wanneer hulle verby hom ry,” verduidelik sy. “Die inskrywing is egter reeds byna 11 000 keer gedeel met meer as 16 000 ‘likes’.”

Courtenay het gesê sy is ook oorval met boodskappe van inwoners van Hartbeespoort, asook boodskappe uit Dubai, Nieu-Seeland en die Verenigde Koninkryk. “Almal wou geld bydra omdat Lymen nie bedel nie, maar inisiatief geneem en begin werk het. Die geld wat hy wel by mense gekry het, het hy eers gebruik vir sement voordat hy kos gekoop het.”

Volgens haar het die regsfirma Webber Wentzel intussen aangebied om al die skenkings wat instroom te belê in ʼn nie-winsgewende organisasie genaamd The Lymen Project.

“Lymen gee nie net vir homself om nie, hy wil ook hê dat ander werklose mense in die omgewing gehelp moet word. Met dié projek van Webber Wentzel word daar dus ook werkskepping beplan. Ons wil net verseker dat Lymen hieruit voordeel trek en dat die geld reg bestuur word,” het Courtenay bygevoeg.

Lymen sal intussen opleiding ontvang by ʼn anonieme organisasie. “Ons het baie raad ontvang dat sement nie die beste oplossing is nie, omdat teer verkrummel en die sement dan hoër as die res van die pad is. Dié organisasie gaan ook die eerste paar sakke materiaal aan hom skenk,” het Courtenay gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Trots ·

Ten minste bedel hy nie. Dankie vir die voorbeeld wat jy stel Lymen.

Hester ·

Dit is wonderlik om te sien dat Lymen self werk en so ander kan aansteek om iets positief te doen. Net soos die man wat iemand se beursie en selfoon opgetel het.

pop ·

Ek hoop die spul studente wat so afbreek en afbrand het ook hierdie berig onder oe. Mooi so lyman, jy kan nie studeer nie maar jou gesindheid is tops, en ek voorspel jy gaan baie ver kom.

Maria ·

Wonderlik om positiewe nuus te lees. Mooi so. Trots op jou.

Deloris ·

Dankie aan Courtenay met jou optrede, en Dankie aan Lynmen se goeie voorbeeld, ons hoop net dat mense sy goeie voorbeeld sal volg en hy ver gaan kom. DANKIE JULLE ons lank het meer sulke mense nodig.

Mary ·

Baie dankie Courtenay dat jy die man raak gesien het om hom te komplimenteer! n Mens is slegs n mens deur ander mense! Fantasties!

Charlene ·

Shoe is goed in die donker dae. Ek hoop net iemand help hom want die stadsraad wil dit tog nie doen nie, en ek hoop hulle vervolg hom nie dit sal nou `n hartseer einde hê

Hettie ·

Trots op jou Lymen. Dankie aan Vanessa wat vir Lymen gehelp het!

Koos ·

In witbank waar ek bly, is daar talle mans wat die gate opvul met grond. En dan vra vir ‘n bydrae. Sal wonderlik wees as hulle ook die regte materiaale verskwaf kan word om die gate op die regte manier te vul.

SD ·

Koos My Male bly ook in Witbank en ek het hulle ook al gesien, Maar net soos Vanessa sal die mense van Witbank moet help om die regte material te verskaf. Daai outjies gaan dit nie self kan doen deur nou en dan meskien ‘n R2 te kry nie. En wat mense nie besef nie is om Hulle te help met die regte materiaal sal hulle uit die kwaad uit hou en die Paaie sal in ‘n beter toestand wees.

Mens kan maar moan soveel mens wil oor die government en stadsrade dit gaan nie help nie mens sal self maar moet inspring en ‘n verskil begin maak.

Elbie ·

Fantasties! Hoe maklik kon die man hom nie aan misdaad oorgegee het nie? Dankie Lymen!

Reinhardt ·

Goeie storie, maar ek gaan nou daai ou wees en noem dat dit definitief nie gaan hou nie. Daar is n rede hoekom ons asphalt gebruik en nie ‘n sement/sand mengsel vir paaie nie. As die munisipaliteite net beter bestuur word sal hy dalk n werk by die raad kan kry en dit behoorlik doen. Net my 2sent.

EMK ·

Reinardt dis hoekom hy mos nou gratis opleiding en die regte goed gekry het, lees jy dan nie die hele berig nie. Ai tog

humor ·

Baie lofwaardig, maar hier sal polisiebewaking(eerlike polisie) moet kom, want hierdie outjies gaan een of ander tyd beroof word.

Eish! ·

Jammer om negatief te klink, maar ek wonder of Lymen ooit iets van alles sal sien. Dink nou net dat die baie geld wat geskenk is, was eintlik vir hom bedoel. Maar nodeloos om te se, hy gaan niks daarvan sien nie.

jc ·

Ek stem ek dink ok nou daaraan ek hoop hy kry nuwe klere en skoene en n dak oor sy kop hy sal die aner help,,,,,ek glo nie hy gaan n sent kry of sien nie,,en is sad

vanessa ·

Hierdie kommentaar is gerig aan JC en EISH.. dit is persies hoekom Webber Wentzel hul dienste PRO BONO aangebied het. Tot hede het Lymen nog net direkte vergunning (vanaf weldoeners direk aan Lymen) ontvang en daar is spesifiek gevra dat die publiek nie enigsins moet bydra, tot alle maatreels getref is om seker te maak dat hy direk baat vind nie.

Johannes Meintjes ·

Dit is wel ‘n werkwyse op tale plekke in Suider-Afrika (maar selde so deeglik). Eersdaags kan die regerings in Afrika nog verder terugsit terwyl die minderheid van belastingbetaalers in effek dubbel belasting betaal. Nietemin, – knap voorbeeld wat jy stel Laymen! Jy werk harder vir jou geldjie as die gemiddelde, wel-besoldigde, amptenaar deesdae.

Swanna ·

Ek hoop ou jacopie soos die engelsman se” take note” hoe dit veronderstel is om gedoen te word. Lymen is ‘n goeie voorbeeld vir almal van ons hoe dinge gedoen moet word al gaan dit hoe sleg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.