ʼn Hawelose man in Durban het Sondagoggend op ʼn pasgebore baba in ʼn vullisdrom afgekom. Die man het glo in die asblik rondgegrawe vir bruikbare items toe hy dié vonds gemaak het.
“Paramedici van die Emer-G-Med-ambulansdiens is vroeg Sondagoggend ontbied om die metropolisie in Durban in die omgewing van Boscombe Place by te staan, nadat die hawelose man die owerhede ontbied het,” het die ambulansdiens Sondag in ʼn verklaring gesê.
“Paramedici het die pasgebore babadogtertjie in die asblik gekry, waar sy steeds aan haar naelstring en plasenta verbind was.”
Die baba is op die toneel behandel, waarna sy na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is.
“Sy is steeds in ʼn stabiele toestand en dit lyk ook of haar gemoed goed is. Die hawelose man se optrede het beslis haar lewe gered,” het paramedici gesê.
Die polisie ondersoek die omstandighede rakende die voorval.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Onmenslik, nie eers n dier gooi sy kinders weg nie
Ek kan nie glo dat ‘n mens so ‘n volkome afhanklike mensie in ‘n vullisdrom kan weggooi nie! Dit is wreed en onmenslik! Hoop hierdie ma word opgespoor.
Ek hoop hulle het vir die boemelaar iets gegee.. al was dit net ‘n hamburger.
Sal die skuldige persoon ooit op gespoor word. Nie eers ‘n dier wat verstand het nie sal hulle kinders weg gooi nie, nou kom ‘n mens wat verstand het en gooi ‘n baba weg. Die persoon het gekry wat sy wou gehad het nou moet die onskuldige baba die prys betaal vir die man en vrou se optrede, Dit is moord.
Dankie tog vir daai hawelose mag hy geseën word en blyplek kry